SY haal die sysagte turkoois trourok versigtig uit haar kas . . . die een waarin sy kaalvoet op die strand met die man van haar drome sou trou.

Hy was alles wat sy begeer het: ’n toegewyde Christen, so opreg, liefdevol, positief, slim en hardwerkend. Of so het sy geglo, tot hy die laaste sent van haar pensioengeld en die geld van haar huis “geleen’’ het. Daarmee saam het sy “ewige liefde’’ toe ook soos mis voor die son verdwyn . . .

Dr. Petro Basson (49) skud net haar kop in ongeloof oor die romanse met die flambojante sakeman Nicholas Rademeyer (53) wat haar verlede jaar by die R1 miljoen gekos het.

Trane wel op in haar oë as sy praat oor die man wat haar voete onder haar uitgeslaan en haar leeggetap het. Nes hy gemaak het met die vrou voor haar en die een voor haar en die een voor haar . . . en hoeveel sal daar nie nog wees nie?

Sy huil nie net oor die geld nie, maar veral ook oor die wrede ontnugtering dat die “liefde” wat kamtig so opreg was, die mooi toekoms wat hulle sou bou, al die tyd net ’n fopspel was.

Alleen in haar huurhuis in Melkbosstrand aan die Weskus vertel dié voormalige hoof van die Universiteit van die Vrystaat se vigskliniek sy kan nou nog nie glo dat sy as intelligente en rasionele vrou so ’n rat voor oë gedraai is nie.

“Hy het my vertel hy was al vier keer tevore getroud, maar hy het my nie vertel van sy skuld en al die ander vroue by wie hy ook geld geleen en toe nooit terugbetaal het nie . . . soos die een voor my vir wie hy byna ’n miljoen rand skuld. Ook nie dat daar minstens twee sake teen hom is oor skuld en dat hy gesekwestreer en op die swartlys is nie.

“Hy is die perfekte man vir ’n vrou tot daar nie meer geld oor is nie . . .’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 24 Junie 2010

Bespreek vir Skouspel!