Sy mooie mamma sien nou behoorlik daarna uit om hom te ontmoet.

Die voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss het op Instagram verklap sy en haar man, die sakeman D’Niel Strauss, wag nog dat hul knapie sy opwagting maak.

Sy het gevra hul seuntjie moet wikkel.

“Die liefde is geduldig. Wag geduldig vir ons seuntjie. Gou maak,” het sy ’n paar uur gelede geskryf.

Love is patient... Patiently waiting upon our little boy. Hurry up! ? #Love #AlmostMom

A photo posted by Rolene Strauss (@rolenestrauss) on

Hul eersteling behoort nou enige dag sy opwagting te maak.

Die egpaar, wat verlede jaar in Februarie getroud is, het sowat vyf maande gelede die goeie nuus van hul eersteling se koms met Huisgenoot-lesers gedeel.

Rolene is intussen nog besig om medies aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer. Sy gaan haar hande behoorlik vol hê in 2017 met haar finale jaar se klasse wat eersdaags begin.

Die skoonheidskoningin het vroeër vanjaar aan Huisgenoot gesê dat hul huishulp, Maria Mashinini, wat al 23 jaar vir Rolene se ouers op Volksrust werk, vir die jaar by haar gaan woon om haar met die baba te help. Haar ma, Theresa Strauss, gaan ook gereeld kom hand bysit.

Ons wag saam met hulle in spanning dat die spruit sy opwagting maak.

Die grapmaker en sanger Emo Adams se vrou, Michelle Gildenhuys, het intussen ’n foto van haar babamagie op Instagram gedeel en geskryf hulle verwelkom hul tweede kleinding oor 10 weke. Hulle is reeds ouers van ’n seuntjie, Kadar Zayn (1).

Die sanger Pieter Smith het einde verlede jaar aan Huisgenoot vertel hy en sy vrou, Yolandi, se eersteling, ’n dogtertjie, behoort middel vandeesmaand haar opwagting te maak. Sy gaan Alexei heet.

Die sangeres Andriëtte en haar man, Glynn Moolman, se gesin brei ook in Februarie uit met die Moolmans wat vier word. Hul bulletjie gaan Graham Harold heet. Glynn is reeds die pa van ’n oulike kleuterseun.

Ons is opgewonde oor 2017 se bedrywige ooievaar!