Ag my moeder!

Die bekroonde aktrise Rolanda Marais en haar man, Jozua Malherbe, het Dinsdag hul eersteling in die wêreld verwelkom. "Ons is vandag oorwelig met vreugde," het die voormalige Binnelanders-ster op haar Facebookblad geskryf by ’n pragtige foto van klein Charlotte James Malherbe.

Volgens die ster is hul dogtertjie "gesond en beeldskoon".

Rolanda en Jozua het in Julie die nuus van haar swangerskap met groot opwinding aangekondig. Die aktrise, wat ook bekend is vir haar rolle in Vlug na Egipte en die fliekweergawe van Ballade vir ’n Enkeling, het verklap die swangerskap was nie beplan nie.

Nietemin het sy gereeld tydens haar swangerskap vertel hoe opgewonde sy is oor die koms van hul eersteling.

Die paartjie is in Februarie getroud. Hulle het op die stel van Wolwedans in die Skemer ontmoet waarin Rolanda die hoofrol vertolk het en waarvoor Jozua die regie behartig het.