Daar is nog geen antwoorde op die tergende vrae rondom die dood van ’n vrou op die Spier-wynlandgoed nie.

Die polisie het bevestig hulle is steeds besig met die ondersoek na die dood van Susan Rohde (47). Susan, vrou van Jason Rohde (47), uitvoerende hoof van die eiendomsgroep Sotheby’s International Realty in Suid-Afrika, is op 24 Julie dood aangetref in haar en haar man se hotelkamer op Spier, naby Stellenbosch.

Die egpaar het op Saterdag 23 Julie ’n jaarlikse konferensie van Sotheby’s bygewoon en sou glo die Sondag terugvlieg Johannesburg toe.

Aanvanklik is gedink Susan het haar eie lewe geneem. Sy is agter die badkamerdeur aangetref waar sy aan ’n elektriese kabel gehang het.

Eers het die polisie ’n dossier vir ’n geregtelike doodsondersoek geopen, maar volgens kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, is dit op 4 Augustus na ’n moordondersoek verander nadat die lykskouing afgehandel is.

Hy het Woensdagoggend gesê daar is nog geen verdere ontwikkeling nie. “Die ondersoek duur voort,” het hy gesê.

Netwerk24 het vroeër berig Susan is met “kaal hande verwurg”. Rapport het berig dat die egpaar voor die voorval in ’n rusie betrokke was oor Jason se beweerde buite-egtelike verhouding.

Die egpaar het drie dogters.

’n Woordvoerder van Sotheby’s in Suid-Afrika, Samantha Bartlett, het die voorval as ’n tragedie beskryf. Sy het by navraag gesê die saak en die omstandighede rondom Susan se dood word steeds deur die polisie ondersoek.

Sy het ook bevestig Jason is steeds met verlof.