Die Switserse tennislegende Roger Federer (34) het ’n brief aan sy Facebook-volgelinge gerig wat ’n gesoute tennisaanhanger se hart in sy skoene sal laat beland.

A photo posted by Roger Federer (@rogerfederer) on

“Ek is ontsettend teleurgestel om aan te kondig dat ek Switserland nie by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro kan verteenwoordig nie en dat ek die res van die (tennis)seisoen gaan misloop,” het die ster op sy Facebook-blad geskryf.

“Nadat ek met die dokters en my span beraadslag en al die opsies oorweeg het, het ek die moeilike besluit geneem om ’n einde aan die 2016-seisoen te maak. Ná my knieoperasie vroeër vanjaar het ek aansienlike rehabilitasie nodig.”

Dokters het glo aanbeveel dat Roger dinge rustig moet neem as hy nog ’n paar jaar beseringvry aan die ATP Wêreldtoer-reeks wil deelneem. “Ek moet my knie en lyf ’n behoorlike ruskans gee sodat dit kan herstel. Dit is moeilik om die res van die jaar mis te loop.”

Maar soos Roger dit stel, is daar ’n silwer randjie aan dié onweerswolk. “Ek het besef hoe gelukkig ek tot dusver was wat beserings betref,” vertel Roger. “Die liefde wat ek vir tennis het, die wedywering, die toernooie en natuurlik, julle, die aanhangers, bly dieselfde. Ek is nog so gemotiveerd soos altyd,” skryf hy.

Aanhangers, moenie te bekommerd wees nie; Roger beoog om in 2017 sterk, gesond en in topkondisie terug te keer na die tennisbaan.