Vernon Witbooi en Geraldo Parsons word aangekla van moord, roof, ontvoering, aanranding en verkragting.

Hulle het op 27 Mei vir Hannah en ’n vriend, Cheslin Marsh, ontvoer. Hannah en Cheslin het na bewering in Cheslin se blou en wit VW Golf in Birdstraat, Stellenbosch, gesit en gesels toe hulle ontvoer is. Hannah is ook verkrag.

Landdros Greg Jacobs het beslis dat geen foto’s van die verdagtes geneem mag word nie. Daar gaan in alle waarskynlikheid ’n uitkenningsparade gehou word waar Cheslin teenwoordig sal wees.

Emosies het met tye hoog geloop in die volgepakte hofsaal. Vir sommige van die studente was Maandag die eerste keer dat hulle ’n hofsaak bygewoon het. Van hulle het selfs op die vloer gesit om die verrigtinge aan te hoor.

Een van die verdagtes het met die verdaging van die hof teruggekyk na die studente wat teenwoordig was.

Hannah se familie was sover bekend nie vandag in die hof nie.

Die saak is uitgestel tot 28 Julie 2017 vir verdere ondersoek.