David Beckham se voormalige sokkerbestuurder beweer hy het sy kans verspeel om ’n topspeler te word toe hy op Victoria Beckham verlief raak.

Sir Alex Ferguson, wat die Brit van 1993 tot 2003 in sy tyd by Manchester United bestuur het, meen David (38) het “verander” toe hy met die Spice Girl begin uitgaan het en het “dit sy missie gemaak” om beroemd te word.

In ’n uittreksel uit sy nuwe boek, Alex Ferguson: My Autobiography, sê hy: “Hy het die kans verspeel om ’n absolute topspeler te word . . . Hy het nooit die vlak van ’n absolute topspeler bereik nie . . . Hy het begin besluite neem wat dit vir hom moeilik gemaak het om in ’n waarlik goeie sokkerspeler te ontwikkel.

“Dit was vir my die teleurstelling. Daar was geen kwade gevoelens tussen ons nie, net teleurstelling vir my. Verslaentheid. Ek het na hom gekyk en gedink: Wat doen jy, seun?’

“David was die enigste speler wat ek bestuur het wat gekies het om beroemd te wees, wat dit sy missie gemaak het om buite die sport bekend te wees.”

Op ’n perskonferensie om sy boek te bemark het Alex gesê: “Die groot probleem was, hy het op Victoria verlief geraak en dit het alles verander.”

Alex beweer ook David, wat 115 keer vir Engeland gespeel het en ’n ster by die Spaanse reus Real Madrid geword het nadat hy by Manchester United weg is, het in sy laaste tyd by dié klub gedink hy was “belangriker” as Alex.

Die 71-jarige Skot vertel van ’n voorval voor opwarming op ’n wedstryddag toe David geweier het om sy mus af te haal voor hy op die veld stap, want hy wou tot afskoptyd wag om sy nuwe haarstyl te onthul.

Alex beweer David “het berserk geraak” toe hy aandring dat hy die mus afhaal. Hy skryf: “In daardie stadium het ek my oor hom begin bekommer. Ek kon sien hoe die media en reklame-agente hom insluk.

“Die oomblik dat ’n Manchester United-speler gedink het hy is belangriker as die bestuurder, moet hy loop. David het gedink hy is groter as Alex Ferguson. Dit was vir hom die doodsklok.”

Alex haal ook ’n berugte voorval in 2003 op toe hy per ongeluk in die aantrekkamer ’n stewel teen David se kop vasgeskop het toe hulle ná ’n wedstryd rusie maak. David moes daarna net bo sy oog steke kry.

Hy skryf: “David het gevloek. Ek het na hom toe gestap en ’n stewel geskop. Dit het hom net bo die oog getref. Natuurlik het hy opgestaan om my aan te vat en die ander spelers het hom gekeer. Sit, het ek gesê. Jy het jou span in die steek gelaat. Jy kan soveel stry as wat jy wil.

“Ek het hom die volgende dag ontbied om deur die video te gaan en hy wou steeds nie aanvaar hy het drooggemaak nie. Hy het nie ’n woord gesê terwyl hy na my sit en luister nie. Nie ’n woord nie.

“Die volgende dag was die storie in die pers. In die openbaar het ’n haarband die skade beklemtoon wat die stewel aangerig het.

“Dit was in daardie dae dat ek vir die raad gesê het David moet die trekpas kry.”