’n Aanlynmusiekvideo deur die Straatligkinders waarin 2009 se Mej. Dowe Suid-Afrika, Vicki Fourie, die lirieke van hul liedjie Petrus met gebaretaal “sing”, roer omtrent die hartsnare.

Dié video, wat in net vyf uur in Kaapstad verfilm is, is reeds 6 000 keer op YouTube gekyk.

Die voorsanger van die Straatligkinders, Bouwer Bosch, sê hy het in 2005 in ’n Amerikaanse kerk gesien hoe ’n dowe vrou kerkliedere met haar hande sing. “Dit was een van die mooiste en kragtigste ervarings nog en ek het besef ek wil Petrus net so vertel.”

Terwyl hy navorsing oor gehoorgestremdheid gedoen het, het Bouwer van Vicki te wete gekom. Sy samel geld in vir kogleêre inplantings; sowat 80 persent van haar gehoorverlies van 97 persent kan met dié inplantings suksesvol herstel word.

Vicki, wat in 2010 ook die naaswenner was in die Mej. Dowe Internasionaal-kompetisie in Las Vegas, Amerika, kon net lippe lees, maar wou nogtans betrokke raak. Sy het by die Nasionale Instituut vir Dowes op Worcester aangeklop om die liedjie se lirieke in gebaretaal te leer en sê die reaksie op die video is verstommend.

“Ek het terugvoer van ’n paar dowe mense gekry en hulle dink dit is ongelooflik opwindend,” sê sy. “Hulle het nog nie regtig so iets gesien nie – veral nie in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie.”

Volgens haar sukkel sowat 10 persent van Suid-Afrikaners met gehoorverlies. Vicki haal haar hoed vir Straatligkinders af omdat hulle al dié mense nou die kans gee om ’n musiekvideo te geniet.

Vicky se eerste van twee inplantings vind in September plaas. Sy benodig nog R250 000 vir die tweede een en hoop om teen volgende jaar genoeg geld daarvoor te hê.

– CHRISTIAAN BOONZAIER