Dié rocker se vrou verwag hul eersteling. Lede van sy groep en sy vriende het dit toe goedgedink om vir hom ’n doekpartytjie/braai te reël waar almal met ’n pak babadoeke en ietsie te drinke opgedaag het.

“ ’n Paar van my vriende het al nappy parties gehad. Ek het gedink dit is iets wat nodig is,” sê Francois.

“Ek het natuurlik geen idee gehad watter doeke om te vra nie. Ek moes eers by my vriende wat kinders  het, hoor watter soort om te kry.”

Die hoofsanger van onder meer die rocksensasie Fokofpolisiekar sê hy is baie opgewonde daaroor om die eerste keer doeke te ruil. “Dit is iets om aan gewoond te raak. Negentig persent van my vriende het nog nooit ’n doek geruil nie, so dit was beslis ’n belewenis om hulle met doeke by my huis te sien opdaag.”

Het jul al gehoor van 'n nappy party? #babyvancoke #ringovancoke ?: @snakeskull666 A photo posted by Francois van Coke (@francoisvancoke) on

Swaargewig-rockers soos Laudo Liebenberg, voorbok van die groep aKING, Rufio Vegas, rapper en TV-aanbieder, Andrew Davenport van aKING en Thieve en Wynand Myburgh, Francois se jare lange makker en baskitaarspeler vir die Karre, was daar.

“Dit was regtig ’n baie lekker jol. ’n Mens kry nie altyd tyd om mekaar te sien nie en almal het tyd afgeknyp om daar te wees.”

Francois sê die babakamer is ook al ingerig. “My dogtertjie moet nou net haar verskyning maak. Die bal is aan die rol,” het hy opgewonde oor die foon gesê.

Nappy boys! Niks beter as 'n Dinsdag braai nie.

A photo posted by Francois van Coke (@francoisvancoke) on