Terwyl die uitverkore groepie aanhangers Jägermeister en Fokof-bier wegslaan, verkies die ster van die aand om water te drink. “Julle moet baie bier drink, want ek gaan dit nie drink nie,” het Francois van Coke geskerts voor hy vir die eerste keer opgetree het sedert sy babadogtertjie, Alex Lila Badenhorst, op 7 November gebore is. Hy is ’n baie trotse nuwe pappa.

“Dat ’n liedjie soos Mensdom uitkom in die week dat Donald Trump president van Amerika word en die albumomslag is pienk en ek het nou net ’n dogtertjie gehad, crazy . . .” sê hy voor hy die nuwe enkelsnit, Mensdom, in die Red Bull Studios in Breestraat, Kaapstad, vir die eerste keer voor ’n gehoor sing.

Hierdie is die lewe / ons word gebore / ons gaan dood / kwaad oor die verlede / mens in beheer / mens hanteer / Mensdom / Ons raak nie jonger nie . . .

Die ander liedjie op die mini-album wat die gehoor tydens die optrede kry, Klein Prys, is ’n ode aan Fokofpolisiekar wat sy bekendheid die sterrehemel ingestuur het: Dit moes êrens begin / net ’n kans gewaag / groot drome gerook onder groot bome . . . paar drankprobleme is mos niks tussen vriende / slagoffer van vryheid / dis ’n familiereünie / op die verhoog saam met my vriende. Wynand Myburgh en Jaco “Sneakhead” Venter, die enigste van die Polisiekarre se bende wat nog nie pa is nie, was daar om die bekendstelling van Francois se nuwe album by te woon. “Ek gaan nie lank bly nie,” sê Francois. Hy kan nie wag om terug te kom by sy vrou, Lauren Badenhorst, en hul nuwe babadogtertjie nie.

Donderdag was dit die eerste dag dat hulle uit die hospitaal terug by die huis was. Hy wys trots ’n foto op sy selfoon. In April verlede jaar nog het hy in ’n onderhoud met Huisgenoot gesê daar is sprake van ’n pienkvoet. “Maar daar is nog nie enige babas op die horison nie. Ek het op die oomblik my hande vol met ons hond.” Dis die beroemde bulhond wat byna meer aanhang op Instagram het as hy, het Francois geskerts.

Die baba gaan seker nog iets wees waaraan hy gewoond moet raak, Maar nou-nou het Lauren ’n foto gestuur van haar en Alex op die bed met Ringo wat rustig onder op die mat lê.

“Dit lyk my asof hulle vriende gaan wees,” lag hy.