Sy droom is om weer op die strand te stap, maar meer nog: Wanneer hy en sy meisie van die afgelope vier jaar afhaak, wil hy voor die kansel staan, letterlik.

En hy weet dit gaan gebeur, sê Andrew Merryweather (30), al is hy die afgelope ses jaar aan ’n rolstoel gekluister.

Danksy ’n superslim robotpak kan dié droom waar word. Al haakplek is die prys.

Nie dat die ReWalk-pak se prys van R630 000 hom afskrik nie.

Eintlik maak dit Andrew net meer vasbeslote, want met die tegnoslim pak, wat deur ’n Israeliese firma ontwerp is, kan mense wat in hul onderlyf verlam is, staan, loop en selfs trap klim.