Enige gereelde feesganger kan jou vertel wat die slegste deel van die ervaring is: die lang tou wat jy moet baasraak voor jy met ’n drankie in die hand na jou gunsteling-band kan luister.

Die gewilde plaaslike musiekfees Oppikoppi, wat hierdie naweek in Limpopo gehou word, het ’n slim oplossing hiervoor bedink: die bier-robothelikopter.

Die Oppikoppi-bierrobot is ’n helikopteragtige toestel met agt skroewe, die “oktakopter”, wat ’n hele paar biere kan vervoer. Dorstige feesgangers kan ’n bier met ’n app op hul Android-foon of tablet bestel, waarna die robothelikopter dit sal aflewer. Die robothelikopter spoor die mense wat die bestelling geplaas het deur hul GPS-ligging op en laai die bier, wat aan ’n oulike klein valskerm vasgemaak is, by hulle af.

Die robothelikopter, wat deur Darkwings Aerials ontwikkel is, is nog in die toetsfase en die feesorganiseerders “neem dit stadig” met net een of twee robothelikopters op ’n slag in die lug.

Dit lyk egter of dit die stowwerige feesgangers dorstig en ongeduldig maak. “Ons het al drie keer bestel en niks is nog afgelaai nie!” mor iemand. Nog een kla op die Oppikoppi-Facebook-blad: “Dors!”

“Die wind is dalk ’n probleem,” sê Margeaux Erasmus by die fees. “Die valskerm waaraan die bier hang, word weggewaai.”

’n Mens sou dink hulle sou ’n bietjie geduldiger wees: Die bier is immers gratis.

-Kirstin Buick

Foto's: Facebook/Oppikoppi en Facebook/Darkwing Aerial Cinematography