Die akteur van Mrs. Doubtfire het in Augustus 2014 op 63-jarige ouderdom sy lewe beëindig.

Sy vrou, Susan, het intussen verduidelik dat daar tydens ’n lykskouing bevind is dat hy aan Lewy-liggaamsiekte (DLB, ’n vinnig-progressserende soort demensie) gely het. Die siekte veroorsaak hallusinasies, probleme met motoriese vaardighede en ’n wisselvallige gemoedstoestand, en dit het bygedra tot die depressie waaraan hy gely het. Susan het Dinsdag (3 November 2015) bekendgemaak dat Robin “moontlik nog drie jaar” oorgehad het om te leef. Sy het ook verduidelik dat hy binnekort na ’n behandelingsinrigting toe sou moes trek, want hy kon nie langer tuis versorg word nie. Dit het gebeur nadat hy ’n kopbesering opgedoen het weens dit wat hy genoem het ’n “misrekening” in die badkamer, en dit het die egpaar genoop om ’n psigiater te spreek.

“Dit was beslis nie goeie nuus nie”

“Dit was ’n deurslaggewende oomblik,” het Susan aan die tydskrif People gesê. “Die psigiater het gesê ‘Nou, Robin …’ – en onthou, dit was ’n paar weke voor hy (dood) is – ‘Neurokognitiewe evaluering as binnepasiënt is nie langer ’n keuse nie. Dit is nou gebiedend noodsaaklik dat ons besluit, dat jy besluit waarheen jy wil gaan en ons gaan dit almal saam oplos.’”

Susan beweer dat Robin – by wie Parkinsonsiekte in 2014 gediagnoseer is – ná die gesprek drasties verander het. Hy was baie ontsteld oor die voorval in die badkamer waartydens hy beseer is en sy gemoed het in ’n afwaartse spiraal begin draai.

“Dit was beslis nie goeie nuus nie,” het sy gesê. “Ons was bang. Ons almal was werklik bang. Ons het nie geweet waarteen ons veg nie.”

Die baie geliefde ster het sy lewe beëindig voor hy na ’n inrigting moes trek waarvandaan hy, soos Susan te kenne gegee het, hoogs waarskynlik nooit weer sou kon huis toe kom nie.

“Teen die tyd dat hy tot by die binnepasiënte-afdeling sou vorder, sou ons vrede gemaak het daarmee dat hy Lewy-liggaamsiekte het,” het sy verklaar. “Wat ek egter nou weet, is dat Robin nog drie jaar sou lewe as hy gelukkig was. En hy sou moontlik nooit die inrigting verlaat het nie. Dit was baie sleg."

DLB word dikwels verkeerd gediagnoseer, aangesien dit so moeilik is om die simptome noukeurig aan te wys. Susan het tydens ’n verskyning op Good Morning America Robin se mediese span geprys vir hul behandeling en sy het haar oorlede man “die dapperste mens” wat sy ken, genoem vanweë die manier waarop hy sy siekte aangepak het.

© Cover Media