Susan Schneider het in ’n verklaring gesê Robin (63) het gesukkel met depressie, angs en die Parkinson-diagnose toe hy Maandag in sy huis in die noorde van Kalifornië dood aangetref is.

Susan het nie besonderhede gegee oor Robin se simptome of wanneer hy die diagnose gekry het nie.

Robin se dood het aanhangers en vriende geskok, ten spyte van sy eerlikheid oor sy stryd met verslawing en geestesgesondheid. Die Parkinson-diagnose was net nog ’n struikelblok.

Parkinson-siekte is ’n ongeneeslike toestand van die senuweestelsel siekte wat behels ’n verlies van breinselle wat beweging beheer. Bewing, wat soms net in een hand begin, is van die vroeë simptome. Dit kan die lyer ook rigied en onseker laat loop, hul spraak vertraag en soms demensie veroorsaak. Die simptome vererger met tyd en kan dikwels met medikasie behandel word. Die akteur Michael J. Fox, wat die siekte al jare het, is bekend vir sy pogings om navorsing oor die siekte te befonds. Die popster Linda Ronstadt het verlede jaar bekendgemaak sy het die siekte en het gesê dit het haar sangvermoë weggeneem. Die bokser Muhammad Ali, die oorlede radiopersoonlikheid Casey Kasem en die oorlede pous Johannes Paulus II tel onder die bekendes met die siekte.

'“Robin was nugter en hy was dapper.'

“Robin was nugter en hy was dapper, want hy het gesukkel met depressie, angs en die vroeë stadium van Parkinson-siekte, wat hy nie gereed was om openbaar te maak nie,” het Susan gesê.

Parkinson-siekte raak sowat 6 miljoen mense wêreldwyd. Die oorsaak is onbekend, maar gene speel vermoedelik ’n rol.

Daar is nie ’n standaardtoets vir die siekte nie; dokters kyk na simptome en mediese geskiedenis en maak gebruik van neurologiese ondersoeke om ’n diagnose te maak.

Dr. Tanya Simuni, die direkteur van die Parkinson's Disease and Movement Disorders Center by die Northwestern-universiteit se mediese skool in Chicago, het gesê pasiënte is gewoonlik verbaas en wanhopig wanneer hulle die diagnose hoor.

Depressie is dikwels teenwoordig, selfs in die vroeë stadium ek kan soms die bewings voorafgaan, wat dokters die diagnose help maak, het Tanya gesê.

Met verwysing na Robin het sy gesê dit is belangrik om te beklemtoon nie almal met depressie loop die risiko vir die siekte nie.

Sy het genoem baie mense kan jare leef sonder ernstig aftakelende simptome, maar 20 jaar ná diagnose het soveel soos 80 persent van pasiënte demensie ontwikkel.

Robin het openlik gepraat oor sy stryd met middelmisbruik, insluitend alkohol. Hy het onlangs by ’n rehabilitasiesentrum aangemeld weens sy depressie.

Susan het gesê Robin se geliefdes kry vertroosting van die uitstorting van liefde en bewondering vir hom.

“Ons hoop ná Robin se tragiese dood dat ander die krag sal vind om die hulp en sorg te soek wat hulle nodig het om hul eie duiwels te beveg sodat hulle minder bang voel,” het sy in die verklaring gesê.

Robin, wie se talent eers in die 80’s-sitkom Mork & Mindy aandag getrek het, het in ’n gerespekteerde dramatiese akteur verander, met rolle in flieks soos Good Will Hunting, waarvoor hy ’n Oscar gewen het, en Dead Poets Society.

- Sapa