Williams se vrou, Susan, beweer in dokumente, wat in Desember by die hooggeregshof in San Francisco ingedien is, sommige van die ontslape akteur se persoonlike besittings is sonder haar toestemming verwyder.

Sy vra ook die hof moet die inhoud van die huis wat sy in Tiburon met die akteur gedeel het, skei van die juweliersware, aandenkings en ander artikels wat Williams aan sy kinders wou skenk.

Williams is in Augustus in sy huis in Tiburon oorlede. Die lykskouer het dit as selfdood beskryf; hy het hom opgehang en is dus dood weens versmoring.

Die kinders, Zachary, Zelda and Cody, beweer in hul verweer Susan Williams is besig om “skande by ’n verskriklike skade te voeg” as sy probeer om die trustooreenkoms te verander en hulle van die akteur se klere en ander persoonlike artikels te ontneem.

Die kinders se prokureurs het in hofstukke verklaar: “Die Williams-kinders se hart is gebreek omdat die klaagster, wat korter as drie jaar met hom getroud was, teen sy wense opgetree het deur die planne te betwis wat hy so noukeurig uitgewerk het vir sy boedel.”

James Wagstaffe, een van Susan Williams se prokureurs, het Maandag gesê sy kliënt het net leiding by die hof gesoek oor die betekenis van sekere bepalings in die trust.

“Dit is nie gemeen nie,” het hy gesê. “Ek sou nie sê ’n mens kan dit as ’n hoogs omstrede prosedure beskou nie.”

Allan Mayer, ’n prokureur wat die kinders verteenwoordig, wou nie kommentaar lewer nie.

Susan Williams het aangevoer die akteur en komediant het gestry teen depressie, angs en ’n onlangse diagnose van Parkinsonsiekte.

Williams het in die openbaar erken hy het af en toe gestry teen die misbruik van middels. Hy het kort voor sy dood by ’n middelmisbruikprogram aangesluit.

Volgens die verslag van die lykskouer het sy vrou aan ’n ondersoekbeampte gesê Williams het nie die program bygewoon weens onlangse dwelm- of alkoholmisbruik nie, maar om die beginsels van sy rehabilitasie opnuut te bevestig.

Volgens hofdokumente staan Williams se trust sy aandenkings en pryse in die vermaakbedryf, asook ’n klompie ander spesifieke persoonlike artikels, aan sy kinders toe.

Susan Williams sê, aangesien hy wou hê sy moes aanbly in die huis in Tiburon, maak sy bedoeling sin dat sy kinders net die spesifieke persoonlike artikels moes kry wat hy ontwerp het en wat in sy ander huis in Napa is.

“Enige ander interpretasie sou daartoe aanleiding gee dat mev. Williams se huis gestroop word terwyl sy nog daar woon,” het haar prokureurs aangevoer.

Die kinders staan dié interpretasie teen. Hulle voer aan daar is geen spesifieke perke op die bepaalde plek waar daardie bepaalde artikels is nie.

Die twee kante stry ook oor artikels wat geberg is, horlosies wat Williams besit het en sy aandenkings.