Die prokureurs sal Maandag voor ’n boedelregter in San Francisco verskyn terwyl hulle stry oor wie klere en ander persoonlike items moet kry wat die akteur in een van sy huise in die noorde van Kalifornië gehou het. In die dokumente, wat in Desember ingedien is, sê Robin se vrou, Susan Williams, van die oorlede akteur se persoonlike items is sonder haar toestemming verwyder.

'Die twee kante verskil ook oor items wat geberg word, horlosies wat Robin besit het en sy aandenkings.'

Sy vra die hof moet die inhoud van die huis in San Francisco se Bay-gebied wat sy met Robin gedeel het, uitsluit van die juweliersware, aandenkings en ander items wat Robin gesê het die kinders moet kry.

Robin se kinders, Zachary, Zelda en Cody, sê in antwoord Susan “voeg skande by ’n verskriklike skade” deur die trustooreenkoms te probeer verander en hulle van die oorlede akteur se besittings te beroof.

Susan se prokureur sê sy het net die hof se leiding gesoek oor die betekenis van sekere bepalings van die trust.

Robin is in Augustus in sy huis in Tiburon, noord van San Francisco, oorlede. Die lykskouer het bevind Robin is dood weens versmoring nadat hy hom gehang het.

Susan sê die akteur en komediant het geworstel met depressie en angstigheid en die feit dat Parkinson-siekte toe onlangs by hom gediagnoseer is.

Volgens hofdokumente bepaal Robin se trust sy kinders kry sy aandenkings en pryse in die vermaakbedryf, onder meer hoogs persoonlike items.

Susan sê omdat Robin wou hê sy moet in hul huis in Tiburon aanbly, maak dit sin dat hy net bedoel het sy kinders moet die spesifieke persoonlike items kry wat hy gehou het in ’n ander huis wat hy in Napa besit het.

Die twee kante verskil ook oor items wat geberg word, horlosies wat Robin besit het en sy aandenkings.