Robin Williams het sy boedel van sowat R550 miljoen aan sy kinders nagelaat.

Die akteur se lyk is op 11 Augustus in sy huis in Tiburon, Kalifornië, gekry. Hy was 63.

Die webtuiste MailOnline het ’n afskrif van sy testament bekom wat op 31 Januarie opgestel is.

Volgens die webtuiste is die dokument verlede week ingedien in Marin County, Kalifornië. As deel van die Robin Williams-trust laat Robin sy fortuin na aan sy drie kinders,  Zachary (31), Zelda (25) en Cody (22).

Dit bepaal ook Robin se vrou, Susan Schneider, sal versorg word volgens ’n voorhuwelikse kontrak wat hulle voor hul troue in 2011 geteken het.

Susan woon tans in die huis waarin sy saam met Robin gewoon het. Maar dit is onduidelik of sy daar sal aanbly of dit sal verkoop.

MailOnline onthul oor Robin se testament: “Met hierdie testament wil ek ontslae raak van alle eiendom, waar dit ook al geleë is, waarvan ek ontslae kan raak.

“Ek sê die die eksekuteur van die testament en die trustee van die trust aan om my verpligtinge te vervul ingevolge die voorhuwelikse ooreenkoms met Susan wat September 28, 2011 gedateer is.”

Nuus oor die testament volg nadat die Marin County-lykskouer sy dood amptelik as selfdood vasgestel het.

Volgens ’n CNN-berig van Vrydag was alkohol en onwettige middels nie betrokke nie,  maar daar is wel “terapeutiese hoeveelhede” voorskrifmiddels in sy stelsel.

Lt. Keith Boyd van die  Marin County-polisiekantoor het bevestig Robin het behandeling vir depressie ontvang.

© Cover Media