Zelda Williams het hulde gebring aan haar oorlede pa, Robin Williams, op wat sy 65ste verjaardag sou gewees het.

Die Jumanji-akteur het in Augustus 2014 sy eie lewe geneem en sy familie en aanhangers wêreldwyd verpletter gelaat.

Gister het sy dogter, Zelda (26), ’n roerende plasing op Instagram gemaak wat aan haar pa gerig is en onthul hoe sy steeds sy dood verwerk.

“Steeds nie eintlik seker wat om op dae soos vandag te doen nie . . .” begin sy. “Ek weet ek kan nie meer vir jou ’n geskenk gee nie, maar ek skat dit beteken ek sal in plaas daarvan moet aanhou om dit namens jou (aan ander) te gee.

“Vanjaar het ek drie sake waarvoor jy omgegee het in een probeer help: geredde honde, mense wat aan gestremdhede ly en ons land se gewonde veterane. Toe maak ek ’n skenking aan freedomservicedogs.org.”

Zelda verduidelik die liefdadigheidsorganisasie red hondjies by skuilings en lei hulle op sodat hulle by iemand geplaas kan word wat hul bystand en geselskap broodnodig het.

“Gedink jy sal genot put daaruit dat wollerige vierbeenvriende die wêreld help verander, een behoeftige stryder op ’n slag,” gaan sy voort. “Veels geluk met jou verjaardag, Pappa. Ek, Shasha, Zakky en Codeman is almal lief vir jou en mis jou ontsettend. Xo”.

Zelda se huldeblyk aan Robin is gebring ’n dag nadat sy haar smart gedeel het oor die dood van die regisseur en vervaardiger Garry Marshall, wat haar pa se trefferkomedieprogram van die laat 70’s en vroeë 80’s, Mork & Mindy, geskep het.

“RIV Garry Marshall. Jy het my pa se lewe, en dus myne, vir ewig verander,” het sy op Twitter geskryf. “Dankie dat jy so baie vreugde op film vasgevang het, oor en oor.”

Die 81-jarige is op Dinsdag 19 Julie dood weens komplikasies van longontsteking nadat hy ’n beroerte gehad het.

© Cover Media