Sy vrou was waarskynlik ten tyde daarvan by die huis, maar was onbewus, het lt. Keith Boyd van die Marin County-balju se kantoor gesê.

Sy vrou het hom nog Sondagaand lewend gesien toe sy gaan slaap het, het lt. Boyd gesê. Sy het die volgende oggend opgestaan en die huis verlaat, onder die indruk dat hy elders in die huis nog aan die slaap was.

Kort daarna het Robin se persoonlike assistent na die huis in Tiburon gegaan en bekommerd geraak toe Robin nie die deur oopmaak nie. Die assistent het die 63-jarige akteur geklee en dood in ’n slaapkamer aangetref.

Volgens lt. Boyd dui al die bewyse daarop dat Robin, die ster van die flieks Good Will Hunting, Mrs. Doubtfire, Good Morning, Viëtnam en talle ander, sy lewe geneem het deur hom met ’n belt te hang. Maar hy het gesê ’n finale uitspraak sal gelewer word sodra toksikologieverslae en onderhoude met getuies afgehandel is.

Die toestand van die liggaam het aangedui Robin was minstens ’n paar uur dood, het lt. Boyd gesê. Hy het ook oppervlakkige snymerke aan sy pols gehad. ’n Knipmes is daar naby gevind.

Volgens lt. Boyd het Robin behandeling vir depressie gesoek. Hy wou nie bevestig of die akteur ’n selfdoodbrief gelos het nie.

“Daar is nog mense met wie ons wil praat; dus gaan ons sekere inligting weerhou,” het lt. Boyd gesê. “Ons bespreek nie nou ’n nota nie, aangesien die ondersoek nog voortduur.”

Die Oscar-bekroonde akteur het jare gesukkel met verslawing en depressie en het in sy optredes na sy stryd daarmee verwys. Net verlede maand het Robin aangekondig hy gaan weer ’n 12-stapprogram volg.

Die omstandighede om sy dood help verduidelik nie wat hom gemotiveer het nie, meen selfdoodkenners. Om dit te verstaan is ’n uitvoerige “sielkundige lykskouing” nodig, insluitend ’n ondersoek na mediese en ander rekords, asook onderhoude met familie en vriende.

Hierdie kenners het ook genoem selfdood word weinig deur ’n enkele faktor beïnvloed, soos depressie of middelmisbruik. Daar is gewoonlik minstens twee sulke invloede, en akute stres, soos geldelike probleme of onstuimige persoonlike verhoudings, plaas ook dikwels ekstra druk.

- Sapa