Robin Thicke was glad nie gekant teen Miley Cyrus se gewaagde planne vir hul vertoning by die MTV Video Music Awards nie, want hy wou mense aan die praat sit.

Die sanger van Blurred Lines en Miley (20) het in Augustus ’n internasionale opskudding veroorsaak met hul gewaagde vertoning by die MTV Video Music Awards. Miley, geklee in ’n lateksbikini, het teen hom geskuur terwyl sy haar uitlokkend met ’n reuse skuimrubbervinger gevryf het.

Robin (36) gesels in die jongste uitgawe van die tydskrif Vanity Fair oor die vertoning. Hy sê hy was heeltemal te vinde vir Miley se skokkende planne toe hy daarvan hoor.

Hy het gesê: “Ek het my hele loopbaan lank nog in my spoor getrap, ek was ’n ware heer, ek het nooit iets opspraakwekkends gedoen nie. Ek het nie die vertoning gesien nie omdat ek op die verhoog besig was om my alie af te sing.

“Hulle het my voor die tyd gewaarsku Miley gaan haar klere uittrek en ronddans en sy gaan dalk vorentoe buig . . . Ek het net gesê ek gee nie om nie, kom ons vermaak die mense. Kom ons gee hulle iets waarvoor hulle nie gereed is nie, kom ons laat hulle praat.”

Die opskudding oor die twee se vertoning is gevolg deur beweringe dat Robin sy vrou, Paula Patton (37), met die sosiale vlinder Lana Scolaro (20) verkul het. Robin ontken dit. Paula, wat in die fliek Mission: Impossible – Ghost Protocol gespeel het, en Robin het ’n seun, Julian (3).

Hy het gesê: “Vyf en sewentig persent van my liedjies gaan oor hoe lief ek my vrou het en hoe nodig ek haar het. Ons is agt jaar lank getroud en is bymekaar sedert ons 16 was. Ons is gelukkig om die grootste vriendskap te hê; ons is John en Yoko – wat dit ook al is – dis wat sy vir my is. Ek het haar nog altyd voor alles gestel en sal dit aanhou doen.”