Robert Pattinson het die eiendom waarin hy en sy vorige meisie, Kristen Stewart, gewoon het, in die mark gesit.

Die Twilight-akteur (27) het onlangs ’n weelderige herehuis van R37 miljoen in Beverly Hills begin huur. Hy het sy eiendom in Los Feliz in Los Angeles vir R67,5 miljoen in die mark gesit.

Volgens die webtuiste van die eiendomsmaatskapy Real Estalker is die 375 m2 huis in die Spaans-Koloniale styl baie privaat. Dit het drie slaapkamers en 3,5 badkamers. Robert het dit in 2011 vir R62,5 miljoen gekoop. Die huis is geleë op 6 000 m2 en het ’n groot leefgedeelte buite, amfiteater, swembad en terrasse.

Die huis het ook al behoort aan die ER-ster Noah Wylie, wat dit in 2003 vir R33,25 miljoen aan die Oscar-wenner en rolprentmaker Robert Richardson verkoop het. Robert Luketic, die regisseur van Legally Blonde, het die huis toe gekoop en in 2011 aan die akteur van The Rover verkoop.