Die Twilight-hartebreker het eindelik ontslae geraak van die weelderige eiendom in die Spaans-koloniale styl waarin hy saam met sy eksmesie gewoon het nadat ’n tevrede koper net minder as die vraprys opgedok het, volgens Forbes.

Die 27-jarige akteur het die drieslaapkamerhuis in die gewilde Los Feliz-gebied van Los Angeles in Oktober verlede jaar teen ’n allemintige R74 miljoen in die mark gesit.

Die vrygeselwoonplek van 372 m2 wat Robert in 2011 vir R68 miljoen gekoop het, is uiters privaat. Dit is op 0,6 ha geleë en het baie leefruimte buite.

Die huis het drie en ’n halwe badkamers, ’n asemrowende amfiteater en ’n meerswembad wat net reg is vir warm someraande.

Dit het voorheen aan die destydse ER-ster Noah Wylie behoort. Dié het dit in 2003 aan die Oscar-bekroonde kinematograaf Robert Richardson verkoop vir R36 miljoen.

Daarna het die Legally Blonde-regisseur Robert Luketic dit gekoop en weer in 2011 aan die The Rover-ster verkoop.

Robert en Kristen het hul verhouding van vier jaar verlede jaar beëindig nadat hy gesukkel het om haar kortstondige verhouding met die getroude regisseur Rupert Sanders in Julie 2012 te verwerk.

Robert het vroeg verlede jaar uit die eertydse liefdesnessie getrek en ’n herehuis van R41 miljoen in Beverly Hills begin huur. Dié huis is voorheen deur onderskeidelik Gwen Stefani, Hilary Duff en Britney Spears besit.