Die 28-jarige Twilight-ster, wat met die 24-jarige aktrise uitgemaak het nadat hy nie haar kortstondige affair met die getroude regisseur Rupert Sanders in 2012 kon verwerk nie, sê die verbrokkeling van hul verhouding was normaal omdat hulle jonk was.

“K** gebeur, jy weet? Dis net jong mense . . . dis normaal! En eerlikwaar, wie gee om?” het die Britse akteur het aan die Britse weergawe van die tydskrif Esquire gesê.

Maar hy sê hy het nog beskermend teenoor haar gevoel nadat hulle uitgemaak het. “Die moeilikste deel was om agterna daaroor te praat, want as jy oor ander mense praat, raak dit hulle op maniere wat jy nie kan voorsien nie. Dis soos daardie toneel in Doubt waar hy (Phillip Seymour Hoffman se karakter) praat oor hoe om skinderstories terug te trek? Dit is soos om vere uit ’n kussing in die lug te gooi en jy moet al die vere weer terugkry.”

Ten spyte van sy sukses kan Robert nie verstaan hoekom mense in hom belangstel nie. “Ek verstaan dit nie. Jy gaan deur tye waar jy ‘die ou is om dop te hou’. Maar wanneer ek ’n spul steelfotograwe sien, dink ek altyd: ‘O hel, wat het hulle uitgevind! O, daardie liefdeskind! Ek het heeltemal daarvan vergeet!’ ”

Die akteur het die eerste keer besef hy is beroemd toe hy by ’n nagklub opdaag en sy naam reeds op die gastelys was. “Ek het na klubs in Los Angeles gegaan en jy moet die promotors vooraf bel om op die gastelys te wees, maar ek het een keer vergeet om te bel, en toe was my naam klaar op die lysie. Toe weet ek. Ek het met mosterdsous op my T-hemp daar opgedaag en hulle het gesê: ‘Jip, jy’s op die lys.’ ”