Robert Pattinson gaan glo met Sean Penn se dogter uit.

Dit lyk asof die Twilight-akteur se hart weer heel is, want hy het begin om weer met meisies uit te gaan. Hy het vroeër vanjaar met Kristen Stewart uitgemaak omdat hy haar nie kon vergewe vir haar kortstondige romanse verlede Julie met die getroude regisseur Rupert Sanders nie. Robert gaan met ’n paar meisies uit, onder wie die blonde model Dylan Penn (22). Haar ma is Robin Wright, ’n ster van House of Cards.

’n Bron het aan die tydskrif Life & Style vertel die twee was vroeër vandeesmaand saam by die rapper, Mickey Avalon, se konsert in The Viper Room in Los Angeles. Daarna is hulle na die Britse akteur se huis in Beverley Hills.

Die ingeligte het vertel: “Hulle was baie vatterig en het flankeer. Hulle was gemaklik by mekaar; ’n mens kon sien hulle het al ’n paar keer saam uitgegaan. By sy huis het hy in die kombuis agter haar gaan staan en sy arms om haar gesit. Toe het hy haar in die nek gesoen.”

Robert (27) gaan ook glo uit met sy persoonlike afrigter, Sydney Liebes. Sy help hom om sy figuur reg te ruk vir sy volgende rolprent, Mission: Blacklist.

Hulle was drie weke gelede saam by Soho House. ’n Ooggetuie het aan die skinderwebtuiste RadarOline.com gesê: “Hulle het baie aan mekaar geraak. Daar was beslis baie fisieke interaksie.” Die mooi donkerkop wou nie oor haar verhouding met Robert kommentaar lewer nie.