Die Cosmopolis-akteur het glo ’n hegte verhouding met die Roar-sangeres se vriendin en die twee het die grootste deel van die Coachella Valley-musiek-en-kunstefees oor die naweek saam deurgebring.

“Cleo is een van Katy se beste vriendinne en Rob het tyd saam met hul groepie deurgebring,” het ’n bron aan die koerant The Sun gesê. “Dis nog in die beginfase, maar dit lyk of hulle goed oor die weg kom. Hulle het baie tyd oor die naweek saam deurgebring.”

Die nuus het gerugte die nek ingeslaan dat Katy (29) en die Twilight-hartebreker ’n paartjie is nadat haar en John Mayer se paadjies geskei het. Katy – wat voorheen met Russell Brand getroud was – het al vantevore skinderstories afgemaak dat sy en Rob saam is en gesê sy is soos die 27-jarige akteur se “ousus”.

“Hy is my pel; ek is soos sy ousus. Ons hang net uit. Ek het nou die dag gesê: ‘Een van die dinge waarop ek die trotste is, is dat ek nie met jou geslaap het nie, Robert.’ En dis waar.”

Behalwe vir die stories oor haar en Robert is Katy onlangs romanties verbind met Diplo. Die tweetjies het glo vroeër vandeesmaand by ’n Coachella-partytjie soos “meer as net vriende” gelyk.