Dit het nog nooit so goed gegaan met Robert Pattinson en Kristen Stewart se verhouding nie. Hulle is vasbeslote om te wys hulle is ’n normale paartjie sonder drama deur hul verhouding uit die kollig te hou.

Die gewese sterre van die Twilight-sage, wat al meer as vier jaar saam is, is in hul noppies dat die liefde vir hulle weer op dreef is ná die 23-jarige aktrise se kortstondige affair verlede jaar met die getroude regisseur Rupert Sanders. Vandat hulle nie meer saam werk nie, verkeer hulle onder minder druk.

“Daar was soveel drama. Hulle is baie jonk en kon nie die druk hanteer nie,” het ’n bron aan HollywoodLife.com gesê. “Hulle leer nou soos normale mense lewe sonder die druk van die flieks.”

Die paartjie is onafskeidbaar vandat die Britse akteur, wat vandag  (13 Mei) 27 word, in Maart uit Australië teruggekeer het waar hy twee maande gewerk het aan sy eersdaagse fliek, The Rover.

Kristen wou glo hê hy moes bewys dit gaan voor die wind met hul verhouding deur haar te vergesel na die onlangse Met Gala. Robert het nie, maar haar tog die volgende dag met ’n pizza-afspraak bederf.

“Hulle is doodseker die media se aandag sal afneem noudat hulle kan wys hulle is ’n normale paartjie sonder drama,” sê iemand in die binnekring. “Hulle geniet dit om te werk, by mekaar en hul vriende te kiuer en na hul honde om te sien; hul prioriteite is reg.”