Robert Pattinson en Kristen Stewart het verlede week stilletjies met hul twee honde in ’n hotel gaan bly om gehaltetyd saam deur te bring.

Die Twilight-hartebreker en die aktrise van On the Road wat in Mei ná vier jaar saam, uitgemaak het, het hul honde, Bear en Bernie, saamgeneem na die luukse Viceroy-hotel in Palm Springs, Kalifornië, vir ’n paar aande se gehaltetyd.

“Hulle het weggeglip na een van hul gunsteling-plekke vir ’n paar aande,” het ’n bron aan The Sun vertel. “Elkeen het sy huis in Los Angeles stilletjies verlaat en hul twee honde saamgebring. Hulle is nog nie weer ’n paartjie nie, maar mis mekaar geweldig baie.

“Kristen het hom nog lief en hy moet nou die volgende skuif maak. Sy dryf hom tot raserny, maar terselfdertyd kan hy dit nie oor sy hart kry om haar uit te los nie.”

Die twee het uitgemaak nadat hulle nie die 23-jarige Kristen se affair middel 2012 met Rupert Sanders, die regisseur van haar fliek Snow White and the Huntsman, kon verwerk nie.

Tog kan Robert (27) nie sy eks uitlos nie, al het hy met Sean Penn se dogter, Dylan Penn, uitgegaan, en vroeër vanjaar ’n kortstondige romanse met Riley Keough gehad het. “Dis verby tussen Rob en Dylan. Daar was toe nie veel aantrekkingskrag tussen die twee nie. Rob was op ’n paar afsprake, maar hy mis die gemak van sy verhouding met Kristen wat hom geken het voor hy ’n groot ster geword het.”