Die bekende paartjie ontmoet glo die afgelope ruk skelmpies in hul gemeenskaplike vriendin Shannon Woodward se woonstel, al het hulle vroeër vanjaar hul verhouding beëindig.

’n Bron het aan Yahoo omg! gesê: “Rob is nog verlief op Kristen en kan nie van haar af wegbly nie. Hulle ontmoet mekaar in die geheim by produksie-ateljees en in Shannon se woonstel. Die drie is al jare goeie vriende en beskerm mekaar.”

Dit is glo vir Robert (27) onmoontlik om alle bande met Kristen te verbreek. Sy is middel verlede jaar uitgevang dat sy hom met Rupert Sanders, die regisseur van Snow White and the Huntsman, verkul het.

Die bron het bygevoeg: “Hy het met ander meisies probeer flankeer, partytjie hou en afstand tussen hulle kry, maar daar is geen ander vrou vir hom nie.”

“Sy suster Lizzie het vir hom gesê hy moet na sy diepste gevoelens luister en nie swig voor die druk van Hollywood nie, want sy bestuur en reklameagente wil hê hy moet aangaan met sy lewe en sy ‘troebel’ verhouding met Kristen agterlaat.”

Dit kom nadat die Twilight-sterre einde verlede maand met hul honde, Bear en Bernie, by die spoghotel Viceroy in Palm Springs, Kalifornië, gaan bly het.

Sedert hy Kristen (23) afgesê het, is Robert se naam al romanties verbind met Sean Penn se dogter, Dylan Penn. Hy het ook ’n vroeër vanjaar ’n kortstondige verhouding met Elvis se kleindogter, Riley Keough, gehad.