Robert Downey jr. se oudste seun word in ’n rehabilitasiesentrum behandel.

Die Iron Man 3-ster het al self met welslae teen dwelmverslawing gestry. Hy is glo baie ontsteld omdat sy seun, Indio (20), aan voorskrifmedisyne verslaaf geraak het.

’n Bron het aan die National Enquirer gesê: “Dis ’n nagmerrie vir Robert omdat sy seun nog nooit tevore in die moeilikheid beland het nie. Hy bid vir Indio se herstel.”

Indio se ma, die sangeres Deborah Falconer, is in 2001 ná nege jaar van Robert geskei. Sy het bevestig hul seun kry hulp in ’n holistiese behandelingsentrum in Los Angeles. Sy sê sy probleem is nie ernstig nie. “Hy was nie verslaaf nie. Hy het een tablet per dag geneem.”

Deborah het bygevoeg: “Ons hoop om dit op die homeopatiese wyse te doen pleks van met medikasie. Hy word met vitamienaanvullings en organiese kos behandel. Hy vaar goed. Hy sal binnekort weer musiek maak en beter vaar.”

’n Woordvoerder vir Robert (48) wou nie kommentaar lewer nie.

Indio speel in sy eie orkes, The Seems. Volgens MTV.com het hy onlangs ’n kontrak met Warner Bros. Records onderteken.

Robert het in 2003 ophou dwelms gebruik. Hy het vroeër vanjaar gesê hy het op ses begin dagga rook. Hy het sy pa, Robert Downey sr., ’n gereelde dwelmgebruiker, nageboots.

Hy het gesê: “Ek wens ek het op 18 behoorlike dissipline gehad.”

Robert het ook ’n seun, Exton Downey (1), by sy huidige vrou, Susan Downey.