Gwyneth Paltrow reken Robert Downey jr. is onvervangbaar as Iron Man.

Die 40-jarige aktrise speel Pepper Potts, die meisie van Robert se karakter, Tony Stark, in die trefferreeks deur Marvel. Sy glo niemand anders sal die skoene van die biljoenêr-superheld kan volstaan nie omdat Robert (48) die karakter sy eie gemaak het.

“Ek dink enigiemand anders gaan maar sukkel om Iron Man se skoene vol te staan omdat die karakter soos Robert is,” het Gwyneth aan die tydskrif Entertainment Weekly gesê.

“Hy het patos, humor, is gemaklik met die taalgebruik en improvisasie en daar skuil ’n ongelooflike hartseer onder dit alles. Dis moeilik om dit na te boots.”

Robert is dol oor die rol; hy het dit al vyf keer gespeel, onder meer in die uitloperfliek The Avengers, en hou ewe veel van die aksietonele. Tog besef hy hy word ouer en dat hy nie altyd by jonger medesterre soos Thor se Chris Hemsworth kan kers vashou nie.

“Ek word oor ’n paar jaar 50. Ek het dit die afgelope paar jaar vergeet omdat ek met jong mense gewerk het en wanneer ek na Hemsworth kyk, dink ek ons het iets gemeen, maar dan herinner ek my: Hy is homself; jy is iets anders.”