Robert Downey jr. (48) pryk boaan Vulture se jaarlikse lys van invloedrykste sterre, met Leonardo DiCaprio (38) en Jennifer Lawrence (23) in die tweede en derde plek.

Die ster van Iron Man 3 is vir ’n tweede keer boaan die jaarlikse lys, terwyl Leo “die ster wat weer begin glimlag het” genoem word. Jennifer word as die “deurbraakmeisie” beskou.

Die tydskrif stel hul lys saam uit verskeie kriteria, wat insluit ’n ster se trefkrag by die loket – plaaslik en oorsee – gewildheid, die waarde wat hulle tot ’n produksie voeg, aangenaamheid, Oscar-praatjies, hoeveel keer hul naam op Twitter en in die poniepers genoem word en wat kritici van hul dink.

Hulle noem Robert – wat in die verlede teen ’n dwelmverslawing baklei het – die “koning” en sê: “Sy aantrekkingskrag ken geen perke en sy aansien by rolprentateljees is net ’n kortkop agter dié van Brad Pitt en Leonardo DiCaprio. Hy hanteer sy roem met grasie en ’n goeie humorsin, en dis ’n merkwaardige ommeswaai van die dae toe hy ’n onbetroubare dwelmverslaafde was.”

Die res van die top-vyf bestaan uit die “beter as ooit superster” Sandra Bullock (49) en die “goue seun” Brad Pitt (49) in onderskeidelik die vierde en vyfde plek.

Die tydskrif skryf verder: “In die tweede plek is Leonardo DiCaprio – al het hy nie die loket-rekord van iemand soos Will Smith nie, het hy gewys hy kan ’n rolprentateljee help om sukses te behaal met ’n projek: Sou The Great Gatsby sonder hom sowat R3,5 biljoen wêreldwyd laat inrol het? Sandra Bullock beklee die vierde plek ná die komedie The Heat en Gravity, wat die kritici gaande gehad en die geld laat inrol het.”

Will Smith, Christian Bale, Denzel Washington, Tom Hanks – wat 25 plekke opgeskuif het sedert verlede jaar – en Johnny Depp voltooi die top-10.

Vulture se top 20 waardevolste sterre van 2013:

1. Robert Downey jr.

2. Leonardo DiCaprio

3. Jennifer Lawrence

4. Sandra Bullock

5. Brad Pitt

6. Will Smith

7. Christian Bale

8. Denzel Washington

9. Tom Hanks

10. Johnny Depp

11. Hugh Jackman

12. Angelina Jolie

13. Meryl Streep

14. Tom Cruise

15. Daniel Radcliffe

16. Jennifer Aniston

17. Daniel Craig

18. George Clooney

19. Matt Damon

20. Mila Kunis