Robert Downey jr. is as die besbetaalde akteur ter wêreld aangewys.

Die 48-jarige rolprentster het van Junie 2012 tot Junie 2013 sowat R745 miljoen verdien, volgens die tydskrif Forbes se jaarlikse lys van besbetaalde akteurs.

Die meeste van die Iron Man 3-ster se inkomste het uit sy hoofrol in The Avengers gespruit, want volgens sy kontrak kry hy ’n persentasie van die rolprent se totale wins by die loket.

Die rolprent het die derde meeste nog by die loket verdien en wêreldwyd sowat R15 biljoen laat inrol.

Robert het sterk mededinging van Channing Tatum (33) gehad wat R596 miljoen verdien het.

Die akteur het die meeste van sy wins uit sy rol in Magic Mike verdien wat hy en die regisseur Steven Soderbergh onafhanklik gefinansier en vervaardig het.

Die Les Miserables-ster, Hugh Jackman, het die derde plek op die lys behaal. Ná ’n suksesvolle jaar het hy R546 miljoen huis toe geneem, ’n raps meer as Mark Wahlberg (42) se R516 miljoen.

Dwayne “The Rock” Johnson rond die topvyf af met R457 miljoen uit sy rolle in Fast & Furious 6 en G.I. Joe: Retaliation wat albei groot treffers by die loket was.

Die ander akteurs onder die top 10 is Leonardo DiCaprio, Adam Sandler, Tom Cruise, Denzel Washington en Liam Neeson.

Forbes neem vooraf betaling, winsdeling, oorskotte, onderskrywings en advertensiewerk in ag wanneer hulle die lys saamstel.

Forbes se lys top-10 besbetaalde akteurs van Junie 2012 tot Junie 2013:

1 - Robert Downey jr.

2 - Channing Tatum

3 - Hugh Jackman

4 - Mark Wahlberg

5 - Dwayne (The Rock) Johnson

6 - Leonardo DiCaprio

7 - Adam Sandler

8 - Tom Cruise

9 - Denzel Washington

10 - Liam Neeson