Robert Pattinson se beweerde nuwe meisie was blykbaar ’n groot aanhanger van die Twilight-trilogie waarin hy en sy eksmeisie, Kristen Stewart, die hoofrolle vertolk het.

Die 27-jarige akteur het sy aan-af-verhouding met Kristen agterweë gelaat en gaan glo nou uit met die akteur Sean Penn se dogter, Dylan Penn. Dié 22-jarige blonde skoonheid was glo ’n groot aanhanger van die vampierflieks.

’n Onbekende vriend van Dylan het aan Radar Online gesê: “Sy was ’n groot aanhanger van Twilight. Al haar vriende sal haar beny dat sy Edward Cullen gevang het.”

Die vriend het bygevoeg: “Ons hoop hy is die een vir haar en hy breek nie haar hart nie, want sy is ’n lieflike en oulike mens.

“Sy is ’n ware skoonheid. Ek sou beslis sê sy is in in sy liga, indien nie selfs hoër nie.”

Ondanks sy beweerde nuwe liefde, is Rob ’n ruk terug opgemerk waar hy Kristen (23) ontmoet, maar hulle gaan glo nie versoen raak nie.

Hy het die aktrise gelos nadat hy uitgevind het sy skelm kontak met Rupert Sanders, haar regisseur in Snow White and the Huntsman met wie sy in 2012 ’n kortstondige affair gehad het.

Robert en Dylan is in September by die Chateau Marmont in Wes-Hollywood die eerste keer saam gesien. Bronne sê die twee beplan ’n romantiese blaaskans in Hawaii.