Rob Lowe “is bly” hy het sy wilde verlede agtergelaat.

Die 49-jarige hartebreker was in die 80’s bekend vir sy gefuif en rokjagtery as ’n lid van die sogenaamde Brat Pack. Die ander lede van dié Hollywoodse groep was Charlie Sheen, Emilio Estevez en Andrew McCarthy.

Terwyl party van sy pelle voor hul uitspattige leefstyl geswig het, het Rob op 26 rehabilitasie gekry nadat ’n seksvideo van hom uitgelek het. Van toe af is hy nugter.

Hy sê: “Ek kan bly wees ek het oorleef; baie mense het nie.

“Jy kan jou dooddrink; jy kan jou uitbrand op dwelms. Jy kan nie mal raak of toelaat dat die bedryf jou insluk nie.

“Ek het dit beslis geniet. (Maar) ek is nou al 22 jaar nugter . . . eintlik 23. Ek weet as ek dit nie gedoen het nie, sou ek dit nooit gemaak het nie.”

Die Killing Kennedy-ster is nou ook al 22 jaar gelukkig getroud met Sheryl Berkhoff. Die trotse gesinsman het twee seuns, Matthew (20) en John (18).

Hy het aan die Sunday Telegraph gesê: “My twee seuns is die belangrikste ter wêreld vir my en my vrou. Ek het my lewe om hulle gebou.”