Robert Pattinson is glo obsessief oor Kristen Stewart en wil met haar opmaak.

Die Twilight-ster, wat in Mei sy vier jaar lange verhouding met sy Twilight-medester verbreek het nadat sy verlede jaar ’n kortstondige liefdesverhouding met die regisseur Rupert Sanders (42) gehad het, het Kristen onlangs in Los Angeles ontmoet en vriende glo hulle gaan binnekort opmaak.

’n Bron het aan Us Weekly gesê: “Hulle sal waarskynlik aangaan waar hulle opgehou het. Rob is obsessief oor haar.”

Kristen (23) wil ook glo graag met Rob (27) opmaak.

Die bron het bygevoeg: “Sy is nog gebroke. Sy kan skynbaar nie oor hom kom nie.”

Nadat hulle uitgemaak het, was Robert vasbeslote om aan te gaan met sy lewe. Sy naam was gekoppel aan Riley Keough (24), en hy het glo ook ’n vinnige verhouding met ’n medester in Maps To The Stars, Sarah Gadon (26), gehad.

Rob en Sarah was na aan mekaar sedert hulle in 2011 op die stel van Cosmopolis ontmoet het, en het selfs meer tyd saam deurgebring nadat hulle in hul jongste fliek ook begin saamwerk het.

’n Bron het gesê: “Daar is werklik ’n vonk tussen hulle. Hulle kuier ook saam wanneer die verfilming vir die dag afgehandel is.

“Hulle is baie na aan mekaar. Wanneer daar ’n onderbreking in die verfilming is, sit hulle dikwels alleen en gesels. Sarah hou baie van kuns en literatuur, waaroor Rob gek is. Hulle gesels selfs oor Engelse sokker, aangesien sy op TV na wedstryde kyk. Hulle het baie gemeen.”