Maar twee middelafstandatlete, Abbey D’Agostina van Amerika en Nikki Hamblin van Nieu-Seeland, het Dinsdag die wêreld gewys waaroor sportmangees eintlik gaan.

Tydens een van die 5 000 m-uitdunne vir vroue het iets afgryslik, dog ongelooflik opheffend gebeur. Met meer as vier van die +12 rondes agter die rug, het Abbey tussen ’n groep atlete op die baan neergetuimel. In die proses het sy vir Nikki, wat net voor haar was, ligweg getref. Maar dit was meer as genoeg om Nikki ook grond toe te stuur. Sy sê sy kon nie begryp hoe sy op die baan beland het nie. Maar skielik was daar ’n hand op haar skouer.

Dit was Abbey, wat reeds weer op haar voete was. Sy het nie soos verwag, met die resies aangegaan nie.

Met haar “Komaan, staan op. Ons moet die resies klaarmaak,” het sy haar Kiwi-teenstaander en die res van die wêreld verstom gelaat.

Toe Abbey egter vir Nikki probeer ophelp, het haar knie onder haar meegegee.

En Nikki het presies dieselfde vir Abbey gedoen en haar fisies bygestaan. Sy’t gewag tot waar Abbey weer in staat was om op eie stoom aan te gaan.

Nie een van die twee het eers binne ’n klipgooi van hul beste tye gekom nie. Maar die gees waarin hulle hierdie resies voltooi het, was beslis een van die beste oomblikke ooit in Olimpiese geskiedenis.

Tydens ’n onderhoud met die media na afloop van die onvergeetlike resies, het Nikki haar dank teenoor Abbey uitgespreek. Sy het Abbey as die verspersoonliking van die Olimpiese gees bestempel.

“Ek het haar nog nooit ontmoet nie, is dit nie ongelooflik nie? Dis ’n oomblik wat ek nooit in my lewe sal vergeet nie.” Soos met menige goeie daad, het hierdie nie sonder die nodige beloning verbygegaan nie. Hulle gaan altwee toegelaat word om Vrydag in die 5 000 m-finaal te hardloop.
So het dit op Twitter gegons.

Bronne: usatoday.com, stuff.co.nz, foxsports.com.au