Die grootste oomblik van die dag was ongetwyfeld die silwer medalje vir Luvuyo Manyonga.

Die 25-jarige jong man van Mbekweni in die Paarl was sowat twee jaar gelede alles behalwe wat jy van ’n Olimpiese atleet sou verwag.

Sy lewe het gewentel om daardie euforiese, dog liggaamsvernietigende gevoel wat in ’n gloeilampie geskuil het: tik.

Maar gelukkig vir hom het die afrigter, Mario Smith hom sowat sewe jaar gelede raakgesien. Meer nog, Mario het gemeen Luvuyo se tegniek was die naaste aan perfek wat hy nóg gesien het.

Luvo se pad na sukses was tot boordens toe vol met verskeie struikelblokke – sy eie én omstandighede buite sy beheer.

In ’n onderhoud met die Mail & Guardian in September 2015 was Luvo, soos hy in die algemeen bekend staan, reeds ses maande skoon van dwelmmisbruik.

Tog het hy erken dat die donker skaduwee van tik vir altyd oor hom sal hang. “Dit sal nooit ophou om my te pla tot waar ek ses voet onder die grond is nie,” het hy gesê. Een van sy mentors was die Ierse gimnasium-eienaar, John McGrath. Hy het Luvo se toekoms koel en kalm as volg beskryf: “Luvo spring of hy sterf. Dis so eenvoudig.” By vanjaar se Olimpiese Spele het hy bewys dat hy beslis die lewe gekies het met verspring, ’n sportsoort wat hy as “in die hemel” beskryf. Ten spyte van twee spronge in die eerste ronde wat nie toegeken is nie, het hy vasgebyt. Sy sprong van 8,37 m is tot dusver sy persoonlike beste en dit het hom ’n welverdiende silwer medalje besorg. Terloops, Jeff Henderson van Amerika, het sy goue medalje-droom met slegs 1 cm uitgeknikker. Dis mos ’n wêreldklasvertoning deur Luvo!

Een van Suid-Afrika se top-atlete by die Spele, Akani Simbine, het ook net groot lof vir Vuyo.
Kyk wat nog op Twitter van die inspirerende verspringer gesê word:
Nog ’n hoop op ’n medalje vir Suid-Afrika is natuurlik Wayde van Niekerk. Hy het gemaklik ’n tweede plek behaal in die uitdunne en is gereed vir die groot een 03:00 Maandagoggend.
So het die gholf Sondag daaruit gesien.
Die nare nuus van die dag is dat Irvette van Zyl van die marathon op Sondag moes onttrek vanweë ’n fraktuur in haar voet. Ons wens haar ’n spoedige herstel toe.
Haar twee spanmaats het hulself goed gehandhaaf.
Vir laatnag- of vroegoggend-kykers: Maandagoggend se aksie skop om 03:00 af met Wayde van Niekerk in die 400 m finaal. Hy sal in baan agt op sy hurke neersak.
03:25 gaan Simbine Akine in die semi-finaal sy staal toon.
Om 18:15 Sondag en 21:40 Maandagaand is dit die seile wat gespan word deur Asenathi Jim en Roger Hudson. Saterdag is die sesde ronde herskeduleer.

KLIK HIER om uit te vind hoe dit gister met SA-deelnemers by die Spele gegaan het.

Bronne: mailandguardian.co.za, dailymaverick.co.za, sascoc.co.za