Terwyl die nuus nog insink oor Wayde van Niekerk se aardskuddende vertoning by die Olimpiese Spele, skyn die kollig vir ’n verandering ook op sy merkwaardige afrigter.

Suid-Afrika se legendariese swemkampioen en Olimpiese gouemedaljewenner Ryk Neethling het tydens die Spele die kans gehad om met Wayde te gesels. Hy bestempel Wayde as ’n nederige kampioen en ’n Grey Kollege-heer.
In nog ’n plasing op Twitter vertel Ryk die minsame Wayde noem hom “meneer”.
Ryk het ook die geleentheid gehad om met Anna Sofia Botha (74), oftewel “tannie Ans”, soos sy bekendstaan, te gesels.

Sy het aan hom gesê Wayde het die wedloop gehardloop presies soos sy hom aangesê het om te doen.

“Dikteer die resies vanuit baan agt,” was die opdrag. En dis presies wat haar atleet gedoen het.

Maar toe Wayde oor die eindstreep blits, wou baanbeamptes haar nie toelaat om na hom te gaan nie, selfs al was al haar dokumente en identifikasiekaartjie in orde.

Gelukkig kon lede van die Suid-Afrikaanse span ingryp en haar help om by Wayde uit te kom.

Emosies het hoog geloop. Ans sê daar was nie woorde nie; hulle kon mekaar net vashou en huil.

“Dit was nie nodig om iets te sê nie. Ons het in ons hart en in ons kop geweet wat ons gedink en bereik het.”

’n Paar uur later het sy so goed soos die vryheid van die Olimpiese dorp gehad. Ans was effens oorbluf deur die media-aandag.

“Afrigting is ’n alledaagse leefwyse vir my,” het sy gesê. “Dis nie iets nuuts nie; niks buitengewoon nie.”

Maar hoe het Ans en Wayde se paaie gekruis?

Sy was van 1990 die hoofbaan- en veldafrigter aan die Universiteit van die Vrystaat. Laat in 2012 het Wayde haar genader om hom af te rig. “Sy beskou ons nie as atlete of mense nie; sy beskou ons as haar kinders,” het hy gesê. Ans self was effens lugtig vir die uitdaging. Maar ook opgewonde oor die vooruitsig om ’n atleet van wêreldgehalte af te rig. Wayde het gereeld met beserings gesukkel en sy gunsteling-nommer, die 200 m, het as gevolg daarvan in die stof gebyt. Die 400 m was die beste manier waar hy sy naelloopspoed met minder pyn kon kombineer.

In 2015 het hy die wêreldkampioenskapstitel gewen – ’n duidelike teken dat Ans se heraanwending van sy vermoëns in die kol was. “Wanneer ek hom vertel hy moet dit en dit en dit doen, kla hy nooit. Nooit,” vertel Ans. Sy sê ook daar is talle kere wanneer Wayde werklik swaarkry, maar dan is sy antwoord: “Ek weet wat ons drome en doelwitte is en ek sal doen wat jy my sê om te doen.” Wayde het sy medalje op Instagram gedeel, met die woorde: “Jare van spanwerk, jare van toewyding, jare van trane, jare van glimlagte, jare van verloor, jare van wen, hierdie op die jare wat kom.”
En tannie Ans? Die Britse joernalis Jessica Creighton pak die bul by die horings. Dit gaan nie oor die feit dat Ans reeds ’n oumagrootjie is nie. Die feit bly staan: sy’s ’n afrigter van wêreldgehalte.

Dié wat atletiek volg sal onthou Ans Botha het Frankie Fredericks van Namibië ook afgerig.

Frankie, ’n 100 m- en 200 m-spesialis, het vier silwermedaljes verower, twee in 1992 en twee in 1996. Dit was ook die eerste Olimpiese medaljes en tot nou toe die enigste vir sy land.

Wat min waarskynlik sal onthou, is dat Frankie ook ’n binnenshuise rekord vir verspring in 1991 in Colorado Springs opgestel het. Sy sprong: 7,75 m.

In sy roemryke loopbaan was Frankie ook die oudste atleet wat in 2002 in Rome die 200 m in minder as 20 sekondes kafgedraf het. Hy was 34 jaar oud.

Bronne: wikipedia.com, nytimes.com, washingtonpost.com