In ’n dramatiese wending kan Etenesh Diro van Ethiopië tog wel haar Olimpiese droom verwesenlik.

Tydens die finale uitdun van die 3000 m-hinderniswedloop vir vroue was sy een van die gunstelinge op die veld. Maar tydens ’n fratsoomblik op die baan het sy en twee ander atlete gebots en op die baan neergeslaan. Dit was ’n oomblik wat sterk aan daardie opspraakwekkende oomblik tussen Zola Budd en Mary Decker in 1984 herinner het.

Met 800 m wat nog voorlê, het Etenesh eers koorsagtig haar hardloopskoen probeer aantrek wat tydens die fiasko losgekom het. Dit was vrugteloos. Dis net daar waar sy die skoen eenkant toe gooi, kort daarna gevolg deur die sokkie. So het dit gebeur.
Haar fenomenale poging om met die voorlopers op te vang, het die skare in beroering gehad. Kort voor lank het hulle meer op haar gefokus en haar aangemoedig en bykans vergeet van die titaniese stryd onder die voorlopers. Haar moedige poging het haar ’n verstommende sewende plek verower. ’n Ontroosbare Etenesh het die item voltooi en snikkend op die baan neergesak. Dit het gelyk asof haar gees geheel en al gebreek was.
Maar danksy vertoë wat deur die Ethiopiese span gerig is, glo ons Etenesh glimlag weer. Die jurie het gewik en weeg en soos in ’n ware sprokie met ’n gelukkige einde is sy nou weer ingesluit in wegspringlys van die finaal.
Sy is vanuit alle oorde op sosiale media geloof vir haar weiering om tou op te gooi.