Dit is enige ouer se grootste vrees: Terwyl jy rustig by ’n restaurant sit, is ’n onbekende man besig om foto’s te neem van jou kinders terwyl hulle by ’n speelplek baljaar.

Dinge raak selfs erger as ’n ander ma jou van die onbekende man kom vertel.

Dié nagmerrie het Katy Katopodis, hoofredakteur van Eyewitness News (EWN) en andjunkvoorsitter van Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum, Saterdagaand oorgekom terwyl sy saam met haar gesin by die Melrose Arch-winkelsentrum in Johannesburg was.

Hulle het by ’n restaurant burgers geëet terwyl die kinders hulself by die openbare speelplek besig gehou het. “Ons dink almal dit kan nie met ons gebeur nie. Of dat sulke mense nie bestaan nie. Of: Ek sal nooit so iets doen nie; hoekom sal iemand dit aan my kinders doen?” het Katy aan Huisgenoot gesê. “Dit is so belangrik dat ons onsself vergewis van die gevare daar buite en die feit dat sulke mense bestaan.” In ’n meningstuk op EWN se webtuiste noem Katy die man wat haar twee seuns (onderskeidelik ses en 10 jaar oud) en hul twee maats (dieselfde ouderdom) sonder haar toestemming afgeneem het, die “boogeyman".

“Die boogeyman bestaan. En ek het hom gesien. Ek het gesien hoe hy my kinders bekruip en afloer terwyl hulle op die speelgoed by Melrose Arch onskuldig gelag en gespeel het.”

Lara Brickman, sentrumwoordvoerder, sê in dié stadium het hulle nie enige ander bewyse as “moedersinstink” dat die man iets verkeerds gedoen het nie.

Volgens Lara toon materiaal van die kringtelevisiekameras hoe ’n man na die openbare speelarea naby Woolworths stap, voor Katy se kinders daar aankom foto’s van die speelarea neem en dan foto’s neem terwyl Katy se kinders daar speel.

Hulle het ’n gesigfoto van die man onder veiligheidspersoneel gesirkuleer, maar dis bloot om hom te vra wat aangaan as hy weer na die sentrum kom. Veiligheidsmaatreëls rondom die speelarea is ook verskerp.

“Die man het niks onbehoorliks gedoen nie; hy het net sy selfoon gebruik. Hoewel ons ’n geen-foto-beleid het, gebruik baie mense hul selfoon om interessanthede af te neem. Ons beskou die voorval in ’n ernstige lig, al weet ons nie of die man enigiets verkeerds gedoen het nie,” sê Lara.

Toe ’n ander ma Katy kom vertel van die onbekende man wat haar kinders en hul maats afneem, het vrees dadelik in haar hart kom sit.

“Ons kon die kinders heeltyd sien. Ons het heeltyd gekyk hoe hulle mekaar rondjaag, grappies maak en vermakerig met mekaar praat,” skryf Katy in haar meningstuk.

“Wat ons nie kon sien nie, was ’n lang, fris geboude man wat loer en om die speelplek beweeg. Hy het na ons kinders geloop en rustig maar gevaarlik om hulle rondgedrentel. Hy het met opset so beweeg dat ons hom nie kon sien nie.

“Toe begin hy foto’s neem. En toe ’n video. Hy het gemaak of hy ’n selfie neem en toe ’n video van homself, maar homself so posisioneer dat hy nie in die skoot is nie.

“Hy het foto’s en video’s van vier seuntjies tussen die ouderdom van ses en 10 jaar oud geneem. Dit terwyl ons ons kinders dophou en gedink het hulle is heeltemal veilig.”

Nadat die ander ma Katy bewus gemaak het van wat aangaan, het Katy die kinders vinnig by die restaurant ingeneem. Die man het op en af voor die restaurant geloop terwyl hy in Katy-hulle se rigting gekyk en op sy selfoon gepraat het.

Katy se man wou die onbekende man konfronteer, maar omdat daar nie enige veiligheidsbeamptes in die omgewing was nie, het hulle daarteen besluit.

Die voorval het Katy laat wonder hoe veilig ’n mens se kinders in die feestyd in winkelsentrum is.

Lt.genl. Deliwe de Lange, Gautengse polisiehoof, het Katy onlangs verseker mense is veilig in winkelsentrums. Dit volg ná ’n reeks misdaadvoorvalle by sentrums oor die provinsie. Deliwe het gesê nog polisiebeamptes is ontplooi en sommige werk onder die dekmantel.

“Ons is beslis nie so veilig soos ons dink nie. Die waarheid is: Die provinsie is al jare nie meer veilig nie. Die boogeyman bestaan en ek het hom gesien,” skryf Katy.

“Hy is lank en goed gebou en het ’n gevaar ingehou vir my kinders. Hy en ander soos hy is vir ander kinders ook ’n gevaar. Ons weet nie wie presies hulle is, wat hulle wil hê of watter skade hulle sal veroorsaak nie.

“Hou dus jou kleingoed naby aan jou, moet hulle nie onder jou oë laat uitgaan nie en leer hulle om na jou toe te hardloop en te skree as ’n vreemdeling vir hulle loer of foto’s van hulle neem.

“Geen skote is afgevuur nie, geen bloed het geloop nie, daar was nie enige brutale aanval op die banke of kitsbanke nie. Die gevaar het eerder sag gelê en loer, in die skadu’s gestaan en weggekruip agter ’n selfoon as sy wapen.

“Die potensiële bedreiging vir ons kinders is werklik. Glo hulle.”