Kan jy glo, die liedjieskrywer, sanger en klankontwerper Riku Lätti, en die aktrise Dorette Potgieter se kleinding word in Julie al twee!

En die fraaie Lia Luna Li is beslis die glans in sy lewe, vertel Riku wat pas die Safta-prys vir die beste klankontwerp in ‘n rolprent gekry het vir Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom.

En boonop is sy net soos haar pa ‘n regte natuurkind. Sy geniet haar gate uit op die bewaringsplaas, Koptoe naby Magaliesburg, waar die gesin bly.

“Sy is ‘n bondeltjie energie met ‘n onuitputbare lus vir die lewe,” vertel Riku. “As ons gaan stap, is sy dadelik gereed om vir ons die blommetjies, goggatjies en diere uit te wys.”

En sy weet presies watter diere maak watter geluide, en sal met woorde soos “mê-mê” en “koer-koer” opgewonde na die skape en duiwe wys.

Dié ingesteldheid vir klanke het sy beslis ook by pa Riku geërf, wat as klankontwerper ‘n fyn oor vir geluide het.

Hanna Hoekom was sy eerste vollengte fliek as klankontwerper. Hy het ook klankwerk gedoen vir die  kykNET-dokumentêr, Wie lê waar, wat eersdaags vertoon sal word.