Haar omstrede uitrustings en gedrag sorg dat sy dikwels die nuus haal, maar Rihanna het gewys sy het ook ’n speelse en vrygewige sy toe sy onlangs selfies saam met Los Angeles se polisiemans neem en daarvoor vergoed toe sy per ongeluk die polisiehoof se selfoon breek.

 

Rihanna en die Los Angeles-polisiehoof, Steve Sobroff, het langs mekaar by ’n basketbalwedstryd gesit en speels selfies geneem toe sy per ongeluk sy selfoon laat val. Sy het op Twitter verskoning gevra vir die glips, en gesê sy gaan R257 000 aan ’n fonds skenk vir die gesinne van gestorwe polisiemans. Sy het ook haar handtekening op die stukkende selfoon aangebring, wat nou deur Los Angeles se polisie opgeveil gaan word. Die bod daarvoor staan al op meer as R300 000.

Rihanna en die polisiehoof kon darem steeds daarin slaag om ’n selfie te neem, en het ’n oulike foto op Twitter gedeel waar hulle met die polisiekantoor se armbandjies vir liefdadigheid poseer.  

- Bronne: Twitter, Buzzfeed