Die meeste kenners glo ’n spesiale studeerplek kan jou kinders help konsentreer wanneer hulle hul huiswerk doen. Ruim gerus tyd in oor die volgende paar weke en rig so ’n werksplek in. Ons blogger het vandeesweek hierdie slim idees op Pinterest gekry.

Al die wenke wat ek nog gelees het oor hoe jy jou kind met sy huiswerk kan help, behels raad oor die inrig van ’n studie-area waar alle noodsaaklikhede byderhand is. Hier is nege slim, oulike Pinterest-idees wat jou kan inspireer, ongeag jou smaak in binneversiering.

Mooi wit

Wit lessenaar, blou muur en reling met emmers

Ek is gek na die vars voorkoms van die wit meubels teen die helder kleur van die muur in hierdie studie-area. Daar is baie plek op die rakke vir boeke, fotorame en snuisterye. Die plastiese houers en draadrak aan die relings kan gebruik word vir skryfpapier en ander noodsaaklikhede. Soek in die kombuisware-afdelings van supermarkte of ysterwarewinkels na soortgelyke items.

Hang dit op

Studeerhoekie met aanknipborde teen die muur

Hang ses knipborde aan hake teen die muur – dit kan gebruik word vir eksamenroosters,  kennisgewings, brosjures of werkopdragte. Leë knipborde met mooi patrone kan dien as kunswerke.

Bloktyd

Lessenaarkubus van ligte laaghout

Kinders kry van jongs af huiswerk en hierdie eenvoudige houtblok maak ’n goeie studieplek vir beginners. Laat hierdie ontwerp deur die Finse argitek Takkunen jou inspireer en maak ’n werksplek en bypassende boekrak van mariene laaghout. Rond dit af met ’n lagie swartbordverf teen die muur agter die raam of teen die hele muur.

Opgehelder

Pienk en groen leerhoekie

Daar is geen rede waarom jy nie helder kleure in ’n rustige studeerhoekie kan hê nie. Hierdie werkarea het baie bergplek vir alles wat jou kind nodig mag kry. Daar is ook bypassende dose en houers vir al die los goedjies soos skryfpapier, materiaal vir projekte, laaiers, kabels en enigiets anders.

Plek vir boeke

Tafelblad op twee boekrakke

’n Gesofistikeerde tiener sal waarskynlik hou van die stylvolle kleure van hierdie lessenaar wat gemaak is van twee boekrakke met ’n tafelblad bo-oor. Kies helderder kleure vir ’n jonger kind. Soek gerus in jou ysterwarewinkel na ’n geskikte werksoppervlakte.

Langs mekaar

Een lessenaar met twee sitplekke

Dis ’n goeie plan as jy twee kinders het wat ’n studie-area deel – of selfs wanneer jy langs jou kind wil sit wanneer jy hom met sy huiswerk help. Benewens die lang blad bo-oor twee liasseerkabinette is daar genoegsame beligting onder die boonste rak, asook twee speldborde vir foto’s en papier.

Bespaar ruimte

Foto oorgespeld van buy.com

’n Lessenaar wat kan opslaan is die ideale oplossing as jy min ruimte het. Hierdie werksblad vou op sodat dit deel uitmaak van die rak teen die muur. Daar is ’n prent aan die onderkant wat deur die voetstuk geraam word. Die boonste rak het ’n klein speldbord vir kennisgewings.

’n Mooi hoekie

Studeerhoekie tussen kas en muur

Die ruimte tussen ’n kas en die muur word hier slim benut. ’n Breë rak onder maak ’n oulike lessenaar en die smaller rakke bo dien as pakplek vir boeke en ander items. Laat genoeg ruimte tussen die werksoppervlakte en die onderste rak as jy ’n rekenaar op die lessenaar wil gebruik. Onthou om voldoende beligting te verskaf.

- Alfie Steyn