Sy is verskriklik opgewonde en dankbaar vir die blootstelling wat Kokkedoor gebring het, sê Riekies Huisamen, ’n uitreikprojekoördineerder van Krugersdorp. (Riekies het in verlede week se episode, 2 Mei uitgeval.)

“Ek het die Maandag nadat ons uitgeval het, met voorstelle na my huidige werkgewer gegaan om kos-demonstrasies en werkswinkels deel van my huidige werk te maak.

“Ek het sedertdien volstoom begin om koswerkwinkels vir groepe aan te bied en dis baie opwindend en die mense is dol daaroor. Ek is baie opgewonde dat Ruimsig Gemeente dit as deel van ons rol as kerk sien om kos te gebruik om mense te beïnvloed en selfs uit te daag om buite hulle grense van die wêreld ’n beter plek te maak.”

Prins Albert was die ideale plek om dié kosprogram te skiet, meen Riekies.

“Ons blyplek was wonderlik en ons het saans heerlik gekuier rondom kerslig in afwagting van die volgende dag se gebeure. Die kompetisie-element en die spanning om teen die tyd met ’n plan vorendag te kom en dit te laat werk, was uitdagend.”

Sy het ook mettertyd agtergekom dat sy nie juis so mededingend soos haar mededeelnemers was nie. “En ek het nogal van kleins af gesê ek gaan nog eendag vir my ma op TV waai en nou kan ek ook sê ek het dit gedoen, maar die kollig is nie regtig vir my nie. Tog hou ek van kos maak, om mense bymekaar te bring met lekker kos en die gawe van kos geniet en uitdeel.”

Hier op die stel het sy tyd afgeknyp om na ure met al die kinkelkokke te kuier en die spulletjie kennerkokke uit te vra oor souse, tegnieke en kosname en nou is sy slaggereed om meer te leer.

“Ek eksperimenteer nog meer en is nie bang om enigiets nuuts te probeer nie. Nou is ek skielik ook weer lus om ou kos op te dollie. My laaste werkwinkel-tema was opmaakkos. Ons het die ou gesegde dat kos die pad na ’n man se hart is, deeglik deurgetrap en toe besluit dat dit tog waar is.

“Die vroue het geleer om ou gunstelinge van meet af te maak, soos pampoenpoffers, Saterdagoggendskons en ’n bobotiepastei in ’n blikbeker.”

Sy het pas ’n kos-blog begin en sommer al ’n hele paar artikels geskryf, sê Riekies.

“Ek het ook Eureka Meule gekontak en hulle is nou die borg vir my werkwinkels. Ek werk graag met meel en is baie opgewonde om hulle te bemark aan die Wes-Rand. Ek sal graag buite die grense van die Wesrand mense wil inspireer deur koswerkwinkels, demonstrasies en selfs partytjies waar mense kook.”

Haar man, John Huisamen, het haar van meet af aangespoor om in te skryf.

“My gesin glo steeds ek maak die beste kerrie. Maar ek sal nog graag met ’n paar brode wil eksperimenteer soos suurdeeg.”

- Haidee Muller

Kokkedoor word Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai