Ricky Martin het erken hy het in sy jonger dae gay mans geboelie omdat hy nie kon aanvaar hy is gay nie.

Die 41-jarige sanger het in 2010, nadat hy jare lank gesukkel het om sy seksualiteit te aanvaar, bekendgemaak hy is gay. Nou het hy erken hy was in sy vroeë tienerjare boonop homofobies. Hy wou nie aanvaar hy voel aangetrokke tot mans nie, want dis teen sy godsdienstige oortuiginge as ’n Rooms-Katoliek.

Hy het aan die Australiese tydskrif GQ gesê: “Ek was baie kwaad, baie rebels. Ek het na gay mans gekyk en gedink ek is nie so nie, ek wil nie so wees nie, dis nie ek nie. Ek was baie skaam. Wanneer almal – die gemeenskap, jou godsdiens – jou vertel jy is verkeerd . . . Ek het geen respek vir myself gehad nie. Ek het my woede op almal om my uitgehaal. Ek kyk nou terug en besef ek het mense geboelie wat ek geweet het is gay.”

Ricky het sy homoseksualiteit baie jare lank geheim gehou, selfs nadat hy in die 90’s ná ’n ruk in die Puerto Ricaanse seunsgroep Menudo wêreldwyd as ’n solosanger bekendheid verwerf het.

Ricky het eers in Maart 2010 – twee jaar nadat sy tweelingseuns, Matteo en Valentino, deur ’n surrogaat gebore is – in ’n emosiebelaaide inskrywing op sy amptelike webtuiste bekendgemaak hy is gay.

Ricky, wat nou ’n verhouding het met die ekonoom Carlos González Abella, het geweet hy moes ter wille van sy seuns uit die kas klim.

Hy het verduidelik: “Ek wou nie hê hulle moet in ’n huis vol leuens grootword of dink dis verkeerd om gay te wees nie.”