Die avonturiers en pasgetroude paartjie, Riaan en Vasti Manser, deel wedervaringe uit hul ekstreme wittebrood op koers van die Amerikaanse deelstaat Kalifornië na Hawaii.

RIAAN EN VASTI DEEL:

Dit voel nie heeltemal reg om te sê jy probeer orkane systap - en jy bedoel dit werklik nie.

Ons is in die Orkaansteeg, 1 500 km die Stille Oseaan in, aan die weskus van Kalifornië in die VSA en ons probeer maniere vind om te beweeg sodat ons nie “omgery” word nie. Die feit dat ons in ’n roeibootjie is, maak dit op sy beste ’n moeilike taak.

Orkaan Frank het ons verbygesteek op sy suidwaartse tog, met winde van meer as 60 knope (110 km/h). Terloops “omgery” (run over) is ’n gewilde uitdrukking vir roeiers ter see wat nie uit die pad van die weermonster kan kom nie.

Nog meer skrikwekkend, en net vir die rekord, het daar in Julie vanjaar die meeste tropiese storms in die geskiedenis in die noordelike deel van die Stille Oseaan ontwikkel. In die geskiedenis, mense!

Die name van die orkane trek reeds by H. Boonop is die orkaanseisoen veronderstel om eers teen einde Augustus te begin. Ons voel glad nie soos die verliefde pasgetroudes, opgewonde en die #onHoneymoon-paartjie wat ons veronderstel is om te wees nie. Ons is senuweeagtig.

Die geweldige nagtelike omkanteling en beserings van verlede week was ’n wekroep. Ek en Vasti praat albei dikwels oor die feit dat hierdie vrees jou nooit verlaat nie. Dit bly in jou binneste en vreet enige kans op ontspanning op. Ons het in die eerste 15 dae moontlik slegs 1 behoorlike nagrus gehad en dit is alles te danke aan hierdie knaende onrus wat ons net nie kan beheer nie. Hou vir ons duim vas. Ons het tegniese kwessies gehad wat moontlik sou veroorsaak dat menige roeiboot sy poging om die oseane te oorkruis, sou laat vaar.

Die eerste dag het ons stuuroutomaat probleme gegee. Die stuuroutomaat is die navigasietoerusting wat jou stuur outomaties aanpas sodat die boot in die regte rigting beweeg.

Ons moet net vinnig genoeg roei sodat dit kan werk. Ons roeistelsel het egter baie taai punte in sy meganika en soms hou dit heeltemal op beweeg. Al wat dit in werklikheid beteken, is dat ons ’n bietjie verder as die 4 000 km gaan roei wat ons oorspronklik beplan het.

Lees ook: So gaan dit deesdae met die pasgetroude Riaan en Vasti Manser

Ons tweede tegniese puntjie behels ons see-tot-see-kommunikasie. Die VHF-radio is ’n stelsel uit die topreeks wat jou in staat stel om met enige skeepsverkeer binne ’n paar kilometer van jou te kan praat.

Dis noodsaaklik, veral as jy die feit in ag neem dat nie een van hulle ons werklik kan sien nie. Ons moet natuurlik eers die voor die hand liggende ondersoeke doen: los drade, behoorlike verbindings, ensovoorts, voor ons paniekbevange raak.

Seaport Supply het gelukkig daarop aangedring dat ons ’n ekstra draagbare Raymarine VHF-radio neem. Ons het tot nou reeds die radio suksesvol gebruik met drie tenkskepe, ten einde ons posisie in hul pad aan te dui.

Dit verbaas my glad nie dat die kapteins kalm en ontspanne is omdat ons die oseaan aandurf in ’n roeibootjie van 6 m lank nie. Ons het saans na die filmmateriaal gekyk van die absolute grootte van hierdie tenkskepe in die verte, wat deur ons Gear 360-kamera opgeneem is en volgens Vasti het hulle nie geweet wat ons is nie. Moontlik dink hulle ons is ’n seilbootjie met ’n enjin. Tussen tegniese dramas, orkane ontduik en ernstige beserings is ons albei nog gretig om Hawaiiese bier te proe, en die belangrikste van alles, om uit te vind hoe regte “Hawaiiese” pizza smaak. Stuur jul boodskappe deur ons opspoorder deur ons webtuiste en, bowenal, herinner ons gedurig aan die rede waarom ons Hawaii as ons wittebroodsbestemming gekies het.

Die Mansers is letterlik “On Honeymoon”. Hulle probeer om van Kalifornië na Hawaii te roei. Hulle gebruik dieselfde see-roeibootjie, genaamd Honeymoon, wat hulle in 2014 gebruik het op hul geskiedkundige roeitog van Afrika na Noord-Amerika.

Volg hulle op hul Facebook-bladsy en @RM_OnHoneymoon op Twitter. Klik hier vir regstreekse bywerking oor hul posisie en vordering.