Rihanna-aanhangers wat ongelukkig is omdat sy in dele van haar vertoning glo net gemaak het of sy sing, het “onrealistiese verwagtinge. Jy kan nie staatmaak op klank in ’n stadion wat 70 000 mense of meer kan akkommodeer nie,” sê die Idols-beoordelaar en omroeper Gareth Cliff. “Dit is kinderagtig en onnosel van iemand wat ’n vertoning bywoon om te glo dat hulle enigiets meer as ’n weergawe van die ware klank gaan kry.”

In die media en op sosiale netwerke is wyd bespiegel dat Rihanna (25) Sondagaand tydens haar Johannesburg-konsert ge-“lip sync” het. ’n Fotograaf van The Star het dit glo gesien en dié koerant se voorblad het gelui: “Ri-Ri Rip Off!” Ná Woensdagaand se konsert in Kaapstad was daar weer bewerings op Twitter dat sy dieselfde gedoen het.

“Jy sit nie in die Blues Room en kyk ’n akoestiese vertoning nie,” sê Gareth. “Hoekom sal enige kunstenaar die risiko in ’n stadion neem?”

Gareth dink nie enigiemand kan voel hulle is gekul nie. “As jy gekul voel, is jy niks anders as die mense wat na ’n WWE-stoeivertoning gaan en uitvind dat die hele ding net ’n kamma-vertoning is nie. Kinders het dieselfde teleurstelling wanneer hulle uitvind Kersvader is toe al die tyd een van hul ouers.”

Hy verduidelik dat stadions oor die algemeen nie goeie akoestiek het nie, behalwe as die klank besonder hard gespeel word. “Andersins spring die klankgolwe rond in die stadion, net soos die pingpong-balletjies in Julius Malema se kop.”

Gareth se Idols-kollega Randall Abrahams stem saam oor die klankaspek en sê ’n mens moet in gedagte hou dat moderne popmusiek met tegnologie ontwikkel word en dat die kunstenaar se stem dikwels ook gemanipuleer word. “Mense betaal vir die algehele vertoning – die musikante, dansers en opstel van die verhoog is alles deel van die ervaring. Dit sal menslik onmoontlik wees om al die elemente suksesvol te laat saamwerk en op die verhoog te sing.”

Volgens hom is daar ’n era van musikante wat hulle daaraan toegewy het om die hele vertoning deur te sing. Deesdae se vertonings, wat hy as “21ste eeuse popproduksies” beskryf, is dikwels ’n musiekvideo wat ’n werklikheid word en dit kan baie uitdagend wees om al die liedjies daar en dan te sing. “Konsertgangers verwag die musiekvideo-konsep.”

Marelize Potgieter