Dis beslis nie iets wat ’n mens aldag sien nie; des te meer nie helder oordag op ’n besige straat in Singapoer nie.

Maar hierdie onwaarskynlike plek en tyd was presies waar twee slange mekaar die stryd aangesê het.

In ’n video wat onlangs op die internet gelaai is, baklei ’n reuse-luislang en -kobra met mekaar op die kampus van Singapoer se Nanyang-universiteit van Tegnologie.

Verbygangers was verstom om te sien hoe dié twee reptiele mekaar aanval. Channel NewsAsia berig die geveg het byna ’n halfuur aangehou.

Daarna kon die geskatte 3 m lange kobra daarin slaag om uit die luislang se greep te ontsnap en die bosse in te verdwyn.

’n Student wat die geveg aanskou het, Abhishek Ambede, het aan die nuusagentskap gesê die luislang het op ’n kol sy lyf heeltemal om die kobra se kop gedraai.

Plaagbeheerders het die luislang op die toneel opgetel; die kobra is later gevang.

Die kobra het ’n nuwe tuiste in ’n nabye dieretuin gevind, maar die luislang is in ’n beboste gebied vrygelaat.

Abhishek sê die kobra het die luislang gepik, wat sy kans op oorlewing “baie skraal” maak.

Kyk hier na die video:

Bronne: Huffington Post; Straitstimes.com