[post-slider]

Anton het die musiekvideo vir sy nuwe treffer Biker Angel sowat ’n maand gelede daar verfilm.

“Die liedjie is geïnspireer deur die tragiese dood van my verloofde, Elize Visagie, se niggie Sharon van den Berg. Sharon het in 2013 in ’n motorfietsongeluk gesterf. Elize se man, Arno, is ook in ’n motorfietsongeluk dood sowel as haar suster, Rika,” vertel Anton.

Hy en Elize het saam aan die konsep van die musiekvideo gewerk. Die idee was om ’n begraafplaas spesiaal te bou by ’n bekende kuierplek op die dorp omdat dit logisties te moeilik sou wees om in ’n regte begraafplaas te skiet.

Anton en Elize het hulle gewend na die gemeenskap van motorfietsryers waarmee hulle al reeds jare lank goed vertroud is. Min het hulle verwag dat soveel geesdriftige ryers van oor Suid-Afrika sou opdaag.

“Teen negeuur op die oggend dat ons die musiekvideo sou skiet, was die parkeerterrein reeds stampvol motorfietse,” onthou Anton. “Mense van so ver as Pietermaritzburg, Bloemfontein, Kroonstad, Rustenburg en Kaapstad het al die pad gekom.”

Meer as 700 in totaal.

“Ek was stomgeslaan. Dit was seker een van die beste oomblikke in my loopbaan.”

Kort voor lank is etlike van die motorfietsryers in sleutelrolle in die video aangewys. Die res is op die agtergrond gebruik om deel van die begrafnisstoet uit te maak.

Sedert die musiekvideo sowat ’n maand gelede uitgereik is, is dit reeds meer as 120 000 keer gekyk.

“Ek voel trots op wat ons met die video bereik het,” sê Anton. “Ek hoop dit bring troos aan almal wat geliefdes in motorfietsongelukke verloor het.”

Kyk hier na die video:

Lees ook in hierdie week se Huisgenoot vir meer nuus oor Anton.