Durban –

[caption id="attachment_108779" align="alignnone" width="600"]Bron: News24 Bron: News24[/caption]

Jason Arnold, hoof van die slangverwyderingsonderneming Universal Reptiles, het Donderdag aan News24 gesê die Afrika-rotsluislang wat by die Izingapark gered is, is 3,8 m lank.

“Werkers het die slang binne die bestek van ’n week ’n paar keer in die son sien bak. Ek is Dinsdag daarheen en het twee uur lank gewag, maar dit het nie verskyn nie. Die werkers het gesê hulle sal my bel wanneer dit weer gesien word.”

Die slang het toe die volgende dag sy opwagting gemaak.

“Hy het uitgekom om in die son te bak. Hy was tussen ’n hoop blare en takke. Dit was ’n taamlike gesukkel om hom daar uit te kry, maar die stryd het net sewe minute geduur. Maar ek moet sê, hy is ongelooflik sterk,” het Jason gesê.

Jason het bygevoeg die natuurlike Hawaise woud reg langs die perseel, is die rede waarom so ’n groot slang so naby ’n stedelike gebied gekry is.

“Gewoonlik kry ons hierdie luislange in plattelandse of natuurliker omgewings. Maar die stuk natuur sou die slang gemaklik laat voel het ondanks die nabyheid aan mense. Ongelukkig moes ons hom verwyder weens die moontlikheid van kontak met mense,” het hy gesê.

Johann Vermeulen, Ezemvelo-natuurlewe se eThekwini-bewaringsbeampte, het Donderdag gesê die slang is nog nie vrygelaat nie.

“Weens die gebrek aan lig en hitte voel ons dit sal beter wees om hom in warmer, sonniger weer vry te laat. Die slang se gesondheid is uitstekend en hy sal binnekort vrygelaat word.”

Luislange is nie giftig nie, maar kan gevaarlik wees, want hulle oorweldig hul prooi en pers dit saam.

Bron: News24